News

Onderskrywers van die Welgevallen-wingerdvernuwing: Rico Basson (Vinpro), Francois Viljoen (Vinpro), Dr Benoit Divol (US) en Prof Danie Brink (US).

Die Universiteit Stellenbosch (US) het kragte met die Suid-Afrikaanse wynbedryfliggaam Vinpro gesnoer om sy eksperimentele wingerde in ʼn wêreldgehalte terrein vir die oordrag van praktiese vaardighede te omskep.

Altesaam 4.92 ha nuwe wingerde sal vanaf Augustus 2020 onder die vaandel van die Welgevallen/Vinpro-wingerdprojek aangeplant word, en vervang alle huidige wingerde met die uitsondering van ʼn kommersiële blok wat tans in gebruik is. Ses uiteenlopende eksperimentele wingerde sal gevestig word om spesifieke aspekte van wyndruifverbouing aan die studente en navorsers van die US se Departement Wingerd- en Wynkunde te demonstreer. Dit sluit ʼn blok gefokus op wynmaak in, asook opleistelsels, nuwe kultivars, klone en onderstokke, ʼn besproeiingsblok en ʼn tafeldruif-opleiprogram.

Die US se Fakulteit Landbouwetenskappe befonds die projek en het Vinpro aangestel om dit oor die volgende drie jaar te implementeer as deel van die organisasie se Gen-Z Wingerdprojek wat ten doel het om kennisoordrag deur praktiese demonstrasies en wingerdproewe te fasiliteer.

“Deur met Vinpro saam te werk aan die Welgevallen-vernuwingsprojek het ons dit reggekry om die brug tussen die akademici en die privaatsektor te oorkruis, en terselfdertyd ʼn platform vir innovasie en kreatiewe leer staan te maak,” sê Prof Danie Brink, dekaan van die Fakulteit Landbouwetenskappe.

Vinpro en die US onderteken ʼn ooreenkoms waarvolgens die Welgevallen-proefplaas vernuwe sal word (van links): Rico Basson (Vinpro-bestuurshoof), Anton Smuts (Vinpro-voorsitter) en Prof Danie Brink (US).

“Dis ʼn voorreg vir ons as ʼn bedryf om saam te werk aan ʼn wêreldgehalte plek waar ons tersiêre studente in wingerd- en wynkunde op ʼn nuwe vlak kan leer. Ons sien ook uit na die sinergieë wat uit hierdie vennootskap sal vloei na ander areas vir samewerking,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

Dr Benoit Divol, hoof van die US se Departement van Wingerd- en Wynkunde sê die hervestiging van die Welgevallen-wingerde val goed saam met ʼn nuwe, meer vooruitdenkende kurrikulum wat teorie en praktyk goed integreer. “Die studente sal definitief baat vind daarby om prakties aan die verskeidenheid kultivars en tegnieke in hierdie nuwe wingerde blootgestel te word,” sê hy.

Vir projekleier Francois Viljoen is dit belangrik dat wynmakers, wingerdkundiges en ander bedryfsrolspelers hul alma mater ondersteun deur hul kennis, praktiese leerervaring en netwerke met die volgende generasie te deel. “Ons nooi graag enige insetverskaffers of ander bedryfsrolspelers om by die projek betrokke te raak deur hul kundigheid, produkte of dienste beskikbaar te stel,” sê hy.

Insetverskaffers wat tot dusver aan boord gekom het sluit Bosman Adama, Fleury, Hexberg, Vititec en Voor Groenberg Kwekerye in.

Kontak Emma Carkeek by tel 021 276 0429 of e-pos emma@vinpro.co.za vir meer inligting.

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro-kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back