Die wynbedryfliggaam Vinpro het dr Langelihle (Langa) Simela tot sy direksie aangewys om na ondernemingsontwikkeling en samewerking rondom landboubeleid om te sien.
“Ek is geesdriftig oor inklusiewe landboutransformasie,” sê sy. Dr Simela fokus tans in haar rol as besigheidsontwikkelingsbestuurder vir Absa Agribesigheid (ʼn pos wat sy sedert 2015 beklee) op beleidsamewerking en die vestiging van inklusiewe finansiering vir die landbousektor. Sy beskik ook onder andere oor ʼn PhD in Dierkunde en MPhil in Ontwikkelingsfinansiering.
Sy het omvattende ondervinding in die landbousektor, is tans ondervoorsitter van Agbiz (Agricultural Business Chamber) en dien ook op die rade van NERPO (National Emergent Red Meat Producers’ Organisation) en SAMIC (South African Meat Industry Company).
“Ondernemingsontwikkeling is ʼn kern fokusarea vir die wynbedryf, tesame met ʼn meer bevorderlike beleidsomgewing. Ons is opgewonde om dr Simela en haar kundigheid tot die Vinpro-direksie te verwelkom en glo dat haar strategiese insigte groot waarde vir verskeie bedryfsinisiatiewe sal inhou,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts.
Vinpro verteenwoordig sowat 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede en voorsien strategiese dienste en inligting aan die bedryf.
MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0429
E-pos: wanda@wineland.co.za