Suid-Afrikaanse wynprodusente het die nuutste Italiaanse wingerdtegnologie op 2 Oktober by Vinpro eerstehands ervaar. Dit was deel van ʼn drie dae lange Fieragricola-tentoonstelling in die Kaapse Wynlande.
Sowat 100 wingerdkundiges, wyndruifprodusente en belanghebbendes het na Vinpro se hoofkantoor in die Paarl saamgetrek om die 12 Italiaanse maatskappye se gespesialiseerde toerusting, stelsels en produkte vir wingerdverbouing te besigtig. Die afgevaardigdes het hul besoek op 3 en 4 Oktober na die Swartland- en Worcester-streke uitgebrei.
“Een van die pilare van die Gen-Z Wingerdprojek is om Suid-Afrikaanse produsente aan die nuutste tegnologie ter wêreld bloot te stel,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se Gen-Z Wingerdprojek. “Ons het die geleentheid aangegryp toe die organiseerders Veronafiere en hul plaaslike agent, adv Glenn Babb, ons genader het om ’n gesamentlike praktiese demonstrasie van masjinerie en ander landbouprodukte deur gevestigde en voornemende Italiaanse maatskappye aan te bied.”
Dr Albert Strever van Stellenbosch Universiteit (SU), meen landboutegnologie is uiters belangrik vir ʼn innoverende toekoms. Alhoewel tegnologie abstrak is, is die toepassing daarvan belangrik. “Ek het baie tegnologieë getoets en waargeneem, maar die ware toets lê in die praktiese aanwending daarvan. Vandag was ons bevoorreg om te sien of dit sal werk en die toets van tyd sal kan deurstaan.”
“Die oordrag van tegnologie en innovasie is belangrik vir die bedryf, asook die ontwikkeling van vennootskappe om ʼn volhoubare wynbedryf te skep,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Die nuwe vennootskap tussen Italië en Suid-Afrika is ’n eerste stap om oplossings te vind, uitdagings te deel en om ons produsente se hande in die toekoms te versterk.”
Emanuele Pollio van die Italiaanse Konsulaat in Kaapstad sê Italië speel ’n toonaangewende rol in landboumasjinerie vir wyndruifverbouing. Alhoewel dit hul eerste handelsmissie na die Wes-Kaap is, is daar potensiaal om sakevennootskappe verder uit te brei. “Dit is ’n mylpaal wat vennootskappe in die bedryf kan help vestig.”
GianPoalo Pedretti, Veronafiere se sake-ontwikkelingsbestuurder, sê die Wes-Kaap was die perfekte plek om Italiaanse wingerdboutegnologie ten toon te stel. “Maatskappye het hul toerusting bekendgestel en kopers kon verskeie demonstrasies van masjinerie en tegnologie in die wingerde besigtig. Vinpro, WineLand Media en die Italiaanse Konsulaat was ideale vennote vir hierdie inisiatief.”
Die 12 Italiaanse maatskappye wat hul tegnologie ten toon gestel het sluit in: Argo Tractors-Landini (official tractor partner), Agrimaster-Demetra, Bgroup, Carraro Agritalia, Celli, Dondi, Grena, Ideal, La Cruz, Orizzonti, Polimetal, Vignetinox.
MEDIA NAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0429
Epos: wanda@wineland.co.za