Wynverwante besighede kan hul Agri-SEB telkaart ʼn hupstoot gee deur ʼn vennootskap met die regte SEB-verskaffer te sluit, en so ook beide besighede help uitbrei.
Dit kan vir wynverwante besighede soos kelders verskeie voordele inhou om ʼn vennootskap met swart ekonomiese bemagtiging (SEB) ondernemings te sluit, insluitende erkenning onder die Ondernemer- en Verskafferontwikkeling (OVO) element van Suid-Afrika se Agri-SEB telkaart. Vinpro-bestuurder van ondernemersontwikkeling, Phil Bowes, verduidelik.
Hoe sal dit my besigheid help?
OVO is een van die belangrikste items op die Agri-SEB telkaart. Dit tel ʼn volle 40 punte vir groot ondernemings (omset groter as R50 miljoen) en 25 punte vir kwalifiserende klein ondernemings (omset tussen R10 miljoen en R50 miljoen). Beide groot en klein besighede wat die lang proses wil onderneem om ʼn dranklisensie te bekom moet vir ʼn minimum vlak 8 voldoening mik, en sal daarom soveel moontlik van hierdie punte wil behaal.
Daar is min verskaffers in die wynbedryf wat in swart besit is, of selfs die 2-punt voordeel inhou dat meer as 51% van die onderneming in swart besit is. Maar indien jy ʼn vennootskap met ʼn sterk OVO-verskaffer sluit, kan die onderneming sy produkte en dienste uitbrei om ander behoeftes in jou besigheid te vervul. Die hersiene Agri-SEB kodes maak ook voorsiening daarvoor dat kommersiële besighede saamwerk om hul ondersteuning aan ʼn enkele OVO-verskaffer uit te brei.
Na watter vlak moet ek mik indien ek ʼn nie-voldoende bydraer is?
Mik ten minste een of meer vlakke hoër as waar jy wil eindig. Die hersiene Agri-SEB kodes penaliseer, of verdiskonteer, besighede met een vlak indien hulle nie voldoen aan die prioriteitselemente van eienaarskap, vaardigheidsontwikkeling en OVO nie, selfs al het hulle hoë punte in die ander elemente, naamlik sosio-ekonomiese ontwikkeling en bestuursbeheer behaal.
Indien jy graag ʼn vlak 8 telkaart wil bereik (wat ʼn maksimum totaal van 54 punte vereis), en jy behaal 20 punte vir OVO, kan jy maklik nog 35 punte opmaak met ʼn paar verstellings aan vaardigheidsontwikkeling en sosio-ekonomiese ontwikkeling bydraes om by 55 punte uit te kom, want die maksimum is vir ʼn vlak 7 bydraer. In hierdie voorbeeld, sal ʼn vlak 7 bydraer verdiskonteer word omdat daar geen bydrae tot eienaarskap was nie, maar die onderneming sal steeds op vlak 8 eindig.
Besighede word slegs een keer verdiskonteer indien hulle nie aan een van die drie prioriteitselemente voldoen nie; hulle word dus nie vir al drie op een telkaart gepenaliseer nie.
Waar kan ek nog SEB-raad kry?
Vinpro se bestuurder van ondernemingsontwikkeling, Phil Bowes, kan wynverwante besighede help om geleenthede op hul Agri-SEB telkaarte te identifiseer en hulle in kontak bring met potensiële SEB-vennote. Kontak Phil Bowes by sel 083 581 4322 of e-pos phil@vinpro.co.za.