News

Die beste wyndruifwingerde in die Wes-Kaap het een ding gemeen – dit word noukeurig bestuur volgens die wyn waarvoor die druiwe bestem is.

“Nog voor die eerste korrels gepars word, moet produsente reeds weet vir watter wyn dit aangewend gaan word, en hul wingerde daarvolgens verbou,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens. Vinpro en Winetech het onlangs die vyf streekswenners van hul jaarlikse Wingerdblokkompetisie aangekondig.

Die projek word in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke met betrekking tot die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel. ’n Paneel van kundiges uit die bedryf beoordeel die inskrywings volgens ’n tema relevant tot die betrokke streek.

“Die keuse van die onderstok en kloon vir die spesifieke gebied en wyndoelwit is die eerste belangrike stap na ’n wyndoelwitgedrewe wingerd,” vertel Francois. Hierna verseker deeglike grondvoorbereiding volgens die grondtipe dat wortels optimaal versprei, en ’n geskikte prieelstelsel word gekies om die lower te akkommodeer.

Volgens Francois moes produsente vinnig by die voortslepende droogte aanpas om water meer effektief te gebruik sonder om gehalte en opbrengs in te boet. Die implementering van grondwatermonitors stel hulle in staat om besproeiing meer doelgerig te skeduleer, groeikrag word manipuleer deur onder andere minder bemesting toe te dien, en lowerbestuur word noukeurig toegepas om verdamping en waterverbruik te verminder.

Olifantsrivier

Tema: Enige wit kultivar wat vir premiewyn aangewend word.

Eienaar/bestuurder: Basie van Lill

Plaas: Arbeidseind in die Citrusdal-berggebied

Blokspesifikasies: Die 28-jarige Chenin Blanc-kloon is op Richter 99 geënt en word as bosstok verbou. Dit beslaan 1.7 ha.

Naaswenners: Oubaas Laubscher (Cederberg Wines) en JP de Villiers (Mopanie).

“Ons het spesifiek vanjaar gekyk na daardie verborge skatte in die streek wat nie-tradisioneel verbou word. Die wenblok is in uitstekende balans in terme van die lower, drag en rypheid. Elke stok is individueel gesnoei volgens die groeikrag en goeie suierpraktyke is daarna toegepas,” sê Gert Engelbrecht, Vinpro-wingerdkonsultant in die Olifantsrivierstreek.

Paarl & Swartland

Tema: Chardonnay

Eienaar/bestuurder: Wilhelm Relihan

Plaas: Oak Valley in die Riebeeksriviergebied

Blokspesifikasies: Die kloon CY55 is in 2009 op Richter 110 aangeplant en op ’n vyfdraad dubbelverlengde Peroldstelsel opgelei. Dit beslaan 2.57 ha.

Naaswenners: Jaco Visser (La Motte) en Chris Loubser (Anthonij Rupert Wyne).

“Wilhelm het ’n daadwerklike strategie in plek gestel om water meer doeltreffend te bestuur. Na aanleiding van deurlopende grondwaterlesings is die wingerd by 60% onttrekking besproei tot na die setperiode, waarna water by 75% onttrekking toegedien is. Groot besproeiings is dus verder uit mekaar gespasieer, wat verdamping en waterverbruik laat daal het,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdkonsultant vir die Paarl- en Swartlandstreke.

Worcester/Breedekloof

Tema: Pinotage

Eienaar/bestuurder: Phil du Toit

Plaas: Rustfontein in die Slanghoekvallei

Blokspesifikasies: Die agtjarige wenblok beslaan 1.75 ha en het in 2017 bykans 24 ton/ha wyndruiwe gelewer. Die Pinotage kloon PI48 is op Richter 110 verbou en op ’n vierdraad dubbelverlengde Peroldstelsel opgelei.

Naaswenners: Bruno Suter (Crush Alba) en Coenie Stofberg (Malkopklip) saam tweede en Jannie du Toit (Swartwalle) derde.

“Die egaligheid van dié blok het veral uitgestaan. Blarebreek is baie effektief toegepas aan die oggendsonkant, wat tot mooi kleur in die druiwe lei, en goeie wortelverspreiding in die profielgat dui op deeglike grondvoorbereiding,” sê Pierre Snyman, Vinpro-wingerdkonsultant vir die Worcester- en Breedekloofstreke.

 

Robertson

Tema: Chenin Blanc

Eienaar/bestuurder: Louis Loubser

Plaas: Vinefera

Blokspesifikasies: Die 1.62 ha blok Chenin Blanc, kloon SN220, is op USVIT 8/7 geënt. Dit is in 2011 aangeplant en op die balletrokstelsel opgelei.

Naaswenners: Danie de Wet (De Wilgen) en PK Uys (Wansbek-Oos).

“Balletrokstelsels het groot lowers en het dus ’n groot waterbehoefte. Vogmetings en Louis se kennis en ondervinding van die stelsel en sy grond het daartoe gelei dat hy die blok baie noukeurig besproei het gegewe die huidige watertekort,” vertel Hennie Visser, Vinpro-wingerdkonsultant vir die Robertsonstreek.

Stellenbosch

Tema: Merlot

Eienaar/bestuurder: Wilhelm Joubert (hier saam met spanlid Dawid Kok)

Plaas: Hartenberg

Blokspesifikasies: Die wenblok is Merlot-kloon MO348A op Richter 110 geënt, en op ’n heiningstelsel met drie stelle verskuifbare loofdrade opgelei. Die wingerd is in 2010 gevestig en beslaan 3.36 ha.

Naaswenners: Johan en Tjuks Roos (Rust en Vrede) en Kallie Fernhout (Delaire Graff).

“Wilhelm en sy span het uitstekende lowerbestuur in die wenblok toegepas. Die draers was ideaal geposisioneer en die lote goed vertikaal ingesteek. Gronde is vooraf presies gekarteer en voorberei volgens die beplande kultivar, wat ’n uitstekende basis vir wortelverspreiding daargestel het,” sê Conrad Schutte, Vinpro-wingerdkonsultant in die Stellenbosch-streek.

Go Back