News

Christo Crous van Uva Mira Mountain Vineyards het skoonskip gemaak in Winetech en Vinpro se Wingerdblokkompetisie in die Stellenbosch-streek, met ʼn blok Cabernet Franc wat sowat 350 m bo seespieël geplant is.

Etienne Terblanche, Vinpro-wingerdboukundige vir die Suidkusstreek, vertel dat die ses inskrywings enige premium kultivars ingesluit het. “Dit was baie moeilik om tussen die hoë-standaard inskrywings te kies.”

Braam Gericke van die plaas Wildekrans het die tweede plek behaal en Wilhelm Joubert van Hartenberg was derde.

Die wenblok by Uva Mira bestaan uit Cabernet Franc, kloon 1A op Richter 110 geënt, en op ʼn heiningstelsel met agt stelle verskuifbare loofdrade opgelei. Die grond, hoë-potensiaal Tukulu, is goed voorberei, wat uitstekende wortelverspreiding van beide fyn- en raamwerkwortels regdeur die profiel verseker het.

Volgens Etienne was die keuse van onderstok, plantspasiëring en ryrigting uitsonderlik vir die spesifieke terroir. Bemesting en besproeiing gedurende die seisoen word op ʼn wetenskaplike grondslag bestuur met behulp van grond- en blaaranalises, asook drukbom- en vogmeterlesings. Wintersnoei is oordeelkundig en netjies uitgevoer en neem die balans van individuele stokke in ag.

“Veral die lowerbestuur was uitstekend en die lote mooi vertikaal geposisioneer, ondanks die feit dat die wingerde in ʼn redelike winderige gebied staan, wat hierdie proses sekerlik sou bemoeilik,” vertel Etienne.

ʼn Effektiewe rolblaarbeheerstrategie het daartoe gelei dat hierdie blok, wat reeds in 2001 geplant is, tans minder as 0.6% rolblaarinfeksie toon. Die blok is baie goed in balans, met volhoubare drag (9 – 10 ton/ha) en uitstekende gehalte druiwe teen goeie suikervlakke van gemiddeld 23.5˚B, sonder groenheid of oorryp geure.

Die wyne wat Uva Mira van druiwe uit hierdie wingerdblok maak – The Dance Cabernet Franc en gedeeltelik hul OTV-versnit – word teen superpremium pryse verkoop en is by verskeie geleenthede internasionaal vereer.

 Die Winetech Vinpro Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:             Vinpro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

Vinpro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back