News

produksieplan_thumbnailUitdagende seisoenstoestande het daartoe gelei dat Suid-Afrikaanse produsente – kleiner 2016 wyndruifoes behaal het, maar druiwe was gesond en gekonsentreerde geure hou die belofte vir mooi wyne in.

Dit volgens die wingerdkonsultante van VinPro, die verteenwoordigende organisasie vir nagenoeg 3 500 Suid-Afrikaanse wynprodusente en kelders.

Lees die volledige verslag per streek hier.

Die totale wyndruifoes sal na verwagting 6.7% ligter as in 2015 wees.

“Alhoewel die oes kleiner is, is dit steeds groter as wat aanvanklik verwag is na – seisoen gekenmerk deur abnormale hitte en watertekorte,” vertel Francois Viljoen, bestuurder van VinPro se wingerdboukundige konsultasiediens.

Watervoorrade het vanjaar – groot invloed op die oes gehad, veral waar wingerde nie teen uitermatige hitte gebuffer kon word nie. Die Robertson- en Klein Karoo-streke wat baie goeie winterreëns ontvang het, het hoër produksies behaal, terwyl Worcester ook – groter oes ingeneem het. Die meeste ander streke het kleiner oeste gerealiseer, maar Stellenbosch en die twee droëlandstreke Paarl en Swartland se oeste was heelwat kleiner as in 2015.

Baie warm weer is veral van einde Oktober tot einde Januarie ondervind, wat groei belemmer het en tot laer trosmassas en kleiner korrels aanleiding gegee het. Die droë toestande het egter daartoe gelei dat wingerde en druiwe oor die algemeen baie gesond was.

Aan die positiewe kant lei kleiner korrels tot meer gekonsentreerde kleur en geur, en kan goeie wyne uit die 2016-oes verwag word.

Suid-Afrika is die 7de grootste wynprodusent ter wêreld en produseer sowat 4% van die wêreld se wyn.

Totale Oesgrootte

Die 2016-wyndruifoes word op 1 378 596 ton geraam volgens die jongste skatting (30 April 2016) van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels (Sawis). Dit is 6.7% laer as die 2015-oes.

Na verwagting sal die 2016-wynoes – sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit – 1 070.8 miljoen liter beloop, bereken teen ’n gemiddelde verhaling van 777 liter per ton druiwe.

2015/16 Groeiseisoen

Goeie reserwes is in die na-oesperiode (April en Mei) opgebou, waarna blaarval meestal op die regte tyd plaasgevind het.

Winter het in die meeste gebiede laat aangebreek, maar was koud genoeg om dormansie op te hef. Met die uitsondering van Robertson en Klein Karoo het die meeste streke baie lae reënval ondervind, wat daartoe gelei het dat dam- en grondwatervlakke nie voldoende opgevul is om wingerde vir die warmer deel van die seisoen voor te berei nie.

Lente het op tyd aangebreek en weerstoestande was ideaal, wat tot goeie, egalige uitbot bygedra het. Die meeste streke het egter so vroeg soos einde Oktober hittegolwe beleef, met uitgerekte hittetoestande deur die somer en – tweede hittegolf in Januarie wat wingerd- en korrelgroei belemmer het.

Die hittegolf in Oktober het in baie streke gedurende die blom- en setperiode voorgekom en kenners meen dat dit toe reeds – negatiewe effek op produksie gehad het.

Brandskade is middel tot einde Januarie in veral die Stellenbosch- en Worcester-streke ondervind, en die omvang hiervan sal in die komende maande bepaal word.

Parstyd het sowat – week vroeg afgeskop weens die warmer weer en sowat twee weke vroeër klaargemaak. Temperature het egter vanaf middel Februarie afgekoel, wat in sommige gevalle tot trae rypwording gelei het, maar voordelig was vir die kleurvorming by laat rooiwynkultivars.

Een voordeel van die droë seisoen is dat siektes en plae beperk was. Ook in die gebiede wat voldoende winterreëns ontvang het, is dit opgevolg met ideale droë, warm weer wat tot gesonde wingerde en druiwe aanleiding gegee het. Groot en ontydige reënval middel Januarie in die Oranjerivier-streek, is gelukkig deur droë weerstoestande gevolg.

Wynpotensiaal

“Aanpasbaarheid was die wagwoord; wynmakers het deur goeie besluitneming en voorpunt-tegnologie die beste uit – uitdagende 2016-oes gehaal,” vertel Viljoen.

Druiwe was oor die algemeen teen laer suikervlakke ryp, wat positief is ten opsigte van laer alkohol-wyne. Sure was laag, wat aanpassings in die kelder geverg het.

Die kleiner korrels wat behaal is, lei aan die positiewe kant tot goeie kleur en intense geur in vanjaar se rooiwyne. Witwyne vertoon ook op die stadium bo verwagting goed, met goeie struktuur en mooi geure.

Oorsig van die streke

Breedekloof: – Effens kleiner oes as in 2015, maar steeds bogemiddeld groot en van goeie gehalte.

Klein Karoo: – Koue, nat winter en warm, droë somer bring – groot en gesonde oes.

Malmesbury/Swartland: – Aansienlik kleiner oes is vroeg en oor – kort tydperk afgehaal.

Olifantsrivier: Ondanks – uitdagende klimaat en kleiner oes, word goeie gehalte wyne verwag.

Oranjerivier: – Ietwat kleiner oes met groot variasies in opbrengste tussen produsente.

Paarl: – Abnormaal klein oes waarvan kultivars vroeg en op mekaar ryp geword het.

Robertson: Ideale seisoenstoestande lei tot – groter oes en belowende wyne.

Stellenbosch: – Heelwat kleiner oes weens besonderse droë, warm weer en veldbrandskade.

Worcester: – Groter oes, ondanks beperkte water, ongewone hitte en veldbrande.

NAVRAE:

Lee-Anne Davidson

VinPro Kommunikasiebeampte

Tel: 021 276 0460

E-pos: leeanne@vinpro.co.za

Francois Viljoen

VinPro Konsultasiediensbestuurder

Tel: 021 276 0429

E-pos:viljoenf@vinpro.co.za

Go Back