Die wynbedryfliggaam, VinPro, verwelkom twee nuwe streeksdirekteure tot sy direksie, na afloop van die maatskappy se Algemene Jaarvergadering hierdie week.
Pieter du Toit, eienaar van Kloovenburg Wyn- en Olyflandgoed in Riebeek-Kasteel, is as direkteur vir die Malmesbury-streek verkies. Hy dien, onder andere, ook op die direksie en finansiële komitee van Riebeek Kelder.
Wynprodusente in die Olifantsrivier-streek het Karl Jansen van Rensburg van die plaas Laborare in Trawal as hul verteenwoordiger op die VinPro-direksie aangewys. Hy is tans ʼn direkteur van Klawer Wynkelder waar hy voorheen ook as voorsitter gedien het.
Danie de Wet van De Wetshof Landgoed buite Robertson is vroeër die week as VinPro se eerste erelid vereer. Deur hierdie nuwe lidmaatskapkategorie bring VinPro hulde aan persone wat ʼn wesenlike bydrae tot die organisasie en Suid-Afrikaanse wynbedryf gemaak het.
Danie word wyd erken vir sy pioniersrol ten opsigte van wit wyndruifkultivars en was instrumenteel daarin om die bedryf met die beste ter wêreld te laat meeding deur uitnemende praktyke en tegnologie in die wingerd en kelder te bevorder. Hy het VinPro as voorsitter gelei toe die organisasie sy deure in 2003 geopen het.