News

Clear water splash with drops. Isolated on a white

Enige wyndruifprodusent wat volhoubaar wil wees in die langtermyn, moet by klimaatsverandering in hul eie wyndruifverbouingsarea aanpas, sê Conrad Schutte, Vinpro se wingerdkundige konsultasiediensbestuurder. Hy deel 10 top wenke om die effek van droë toestande te buffer:

1. Terreinkeuse
Een van die belangrikste besluite in die wingerd is die regte terreinkeuse vir die spesifieke kultivar. Produsente word aangeraai om eers ʼn terreinanalise te doen om die mees geskikte terrein te identifiseer. Dit sluit ʼn ondersoek van faktore soos hoogte bo seespieël, aspek, helling, kurwe, sonligradiasie, daglengte-ure, oppervlakhidrologie en die afstand na die naaste waterbronne in.

2. Grondopname
Moenie wingerd op grond met lae potensiaal plant nie. Produsente moet gebruik maak van grondkartering wat die ruimtelike geskiktheid, vog en chemiese eienskappe uiteensit.

3. Besproeiingstrategie
Vermy lekkasies, maak seker dat die besproeiingstelsel funksioneer teen die korrekte druk en maak filters gereeld skoon. Dis oor die algemeen beter om groot besproeiings minder gereeld toe te pas teenoor die toepassing van minder water per besproeiing. Besproeiing gedurende die aand kan ook verseker dat minder water verloor word weens verdamping voor infiltrasie. Die monitering van grondwater en plantwaterstatus lei ook tot meer ingeligte besluitneming, veral wanneer waterbronne beperk is. Dis ook belangrik om gedurende uitbot, blom en deurslaan te besproei wanneer plantwatervlakke onder druk is.

4. Wortelverspreiding en grondvoorbereiding
Poog om die bufferkapasiteit van die wingerd te vergroot deur korrekte en diep grondvoorbereiding toe te pas, wat tot diep en goed ontwikkelde wortelstelsels aanleiding gee.

5. Waterbegroting
Weet hoeveel water beskikbaar is vir besproeiing, veral gedurende droë jare, en beplan daarvolgens.

6. Deklaag
Deklaagmateriaal beperk die wegloop van water vanaf die oppervlak en verliese weens verdamping, en lei tot ʼn hoër grondwaterinhoud.

7. Bestuur van dekgewasse en onkruid
Produsente plant dekgewasse om onkruid te onderdruk, maar moet steeds onthou om hierdie gewasse te beheer sodat dit nie later in die groeiseisoen met die wingerd meeding vir water en voedingstowwe nie.

8. Bemesting
Verhoed oorbemesting en pas slegs die nodige hoeveelheid stikstof, fosfaat en kalium. Dit behoort geilgroei in toom te hou.

9. Lowerbestuur
Suier onnodige lote en pas tip en top toe om groot lowers te verhoed.

10. Opbrengsbeheer
Die opbrengs word beheer deur snoei en die verwydering van trosse gedurende deurslaan. Verseker dat die oeslading belyn is met die beskikbare water.

“Hierdie wenke sal wyndruifprodusente in staat stel om sterk te staan gedurende die droë en warm toestande wat ons oor die afgelope drie seisoene beleef het,” sê Conrad.

Klik hier vir ʼn volledige hulpbron oor die bestuur van wingerde in tye van droogte.

Vir meer inligting kontak die Vinpro-konsultasiediens by tel: 021 276 0432 of e-pos gaynor@vinpro.co.za.

Go Back