Suid-Afrikaanse wynbesighede rus hulself vir die nuwe jaar toe deur te kyk na die faktore wat die wyn- en brandewynbedryf in 2019 meer volhoubaar, winsgewend en mededingend sal maak, en elke rolspeler se aandeel daarin.
Die Nedbank Vinpro Inligtingsdag, met die tema Dit begin by jou, word 17 Januarie 2019 van 09:00 – 15:00 by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) gehou.
LAAI DIE PROGRAM AF
REGISTREER AANLYN
LAAI DIE REGISTRASIEVORM AF
Van ʼn makro- na ʼn mikroperspektief, kyk Agbiz se Wandile Sihlobo eers na sakevertroue, groei en werkskepping in die breë landbousektor, waarna Christo Conradie van Vinpro gesels oor die stand van die wynbedryf en faktore wat ʼn invloed op wynbesighede het.
Linda Lipparoni van die etiesehandelsorganisasie WIETA benadruk die belangrikheid van sosiale dialoog in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, aan die hand van verskeie inisiatiewe en forums.
Oudergewoonte gee Francois Viljoen van Vinpro ʼn oorsig oor die seisoen en verwagtinge vir die 2019-wyndruifoes, asook nuwe verwikkelinge in die wingerd.
Van die wingerd na die mark deel Mark Norrish van Ultra Liquors tendense en riglyne vir die pad vorentoe in die plaaslike mark vanuit ʼn kleinhandeloogpunt, waarna internasionale wynkenner en -skrywer van die VK, Robert Joseph, gesels oor die toekoms van wyn globaal en hoe die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet aanpas om in hierdie nuwe wêreld te oorleef.
Politieke kommentator Max du Preez sluit die dag af deur lig te werp op die politieke landskap en doen ʼn beroep op landsburgers om hulself vierkantig in die oë te kyk.
Die Inligtingsdag word in 2019 vir die 14de jaar aangebied, met Nedbank as hoofborg sedert 2006. Old Mutual en Old Mutual Insure is vir die vierde agtereenvolgende jaar betrokke as kleiner borge.
Buiten die strategiese inligting wat hier gedeel word en wynbesighede help rig vir die nuwe jaar, is die Nedbank Vinpro Inligtingsdag ook die ideale netwerkgeleentheid vir wyndruifprodusente, kelders, verskaffers van dienste en produkte aan die bedryf en ander rolspelers in die wynbedryf-waardeketting.
Bespreek nou om teleurstelling te voorkom.
Vinpro-lede betaal R750 per persoon (beperk tot twee kaartjies per lid), en nie-lede betaal R1 150 per persoon.
Registreer aanlyn by www.sales.vinpro.co.za/events of kontak tel 021 276 0460, e-pos info@vinpro.co.za.