News

Wingerdspanne kan nou hul vaardighede opskerp deur Vinpro se reeks snoeikursusse by te woon, wat van 29 Mei tot 19 Junie 2019 in die onderskeie wyndruifverbouingstreke aangebied word.

“Net omdat jy ʼn snoeiskêr kan vashou, beteken dit nie dat jy op die regte manier snoei nie,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdboukundige aan die stuur van die kursusse. “Vinpro se reeks wingerdkursusse help wyndruifprodusente en hul spanne om die beste uit hul wingerd te kry deur te verstaan hoe dit wat hulle vandag doen uiteindelik ’n effek op die oes en wyn op die rak het.”

Die snoeimodule, wat tot op hede die gewildste van Vinpro se tien opleidingsmodules is, dek die basiese beginsels van snoei, verskillende snoeistelsels en belangrike wenke vir snoei. Elke module word as ʼn eendagsessie aangebied en sluit teorie, prakties en middagete in.

Produsente kan kies om hul spanne vir een van hierdie voorafgeskeduleerde eendagsessies te registreer, of die opleidingskantoor kontak om ʼn sessie op hul plaas te versoek. Die datums is as volg:

29 Mei: Vredendal
4 Junie: Robertson
5 Junie: Worcester
11 Junie: Paarl
18 Junie: Stellenbosch
19 Junie: Stellenbosch (Engels)

Die kursusse word hoofsaaklik in Afrikaans aangebied, tensy anders aangedui. Die eendagkursus is beskikbaar teen R300 per persoon.

Die Vinpro-wingerdopleidingsreeks, moontlik gemaak deur die Vinpro Stigting, word van Mei tot Oktober aangebied en dek die hele spektrum van wyndruifverbouing deur middel van tien modules. Vinpro stel die wingerdkursusse reeds sedert 2012 aan die wynbedryf beskikbaar en in 2018 is nagenoeg 1 500 persone in 68 sessies opgelei.

Kliek hier vir meer inligting oor die spesifieke opleiding in jou streek, of kontak die opleidingskantoor by 021 276 0429 of training@vinpro.co.za.

 

Go Back