News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verwag uitsonderlike wyne van die 2020-wyndruifoes. (Fotokrediet: Loriane Grobbelaar)

Verbruikers kan uitsien na uitsonderlike wyne van Suid-Afrika se 2020-wyndruifoes, danksy gunstige weerstoestande regdeur die seisoen. Dít volgens die Suid-Afrikaanse wynbedryf se jaarlikse Wynoesverslag 2020.

“Hoewel dit altyd belangrik is om die diversiteit van ons tien wyndruifverbouingstreke in ag te neem, het ons bedryf oor die algemeen ʼn voortreflike seisoen ervaar, en glo ons dat verbruikers wyne van uitsonderlike gehalte kan verwag,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van Vinpro, die wynbedryf se verteenwoordigende liggaam.

Die 2020-wyndruifoes word op 1 349 883 ton beraam – ʼn 8.2% verhoging jaar op jaar – volgens die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels) se mees onlangse skatting op 24 April 2020.

LAAI DIE VOLLEDIGE SA WYNOESVERSLAG 2020 AF.

Gedurende die 2020-produksiejaar was weerstoestande oor die algemeen gunstig en die trosgetalle het reeds vroeg in die seisoen belowend gelyk, maar winderige toestande gedurende die set- en sensitiewe korrelgroeistadiums het tot kleiner korrels en gevolglik ʼn ligter oes bygedra. Die seisoen is verder gekenmerk deur noemenswaardige variasie tussen, en selfs in dieselfde wingerdblokke wat droë toestande ervaar het.

Die Stellenbosch-, Swartland-, Kaap-Suidkus, Paarl- en Breedekloof-streke het almal groter opbrengste as in 2019 gelewer, en die Olifantsrivier-streek het bykans weer na sy normale produksievlakke teruggekeer nadat hierdie een van die streke is wat die ergste deur die onlangse droogte getref is. Die Klein Karoo gaan steeds swaar gebuk onder die voortslepende droogte, wat ook in sekere dele van die Robertson-streek ervaar is, terwyl rypskade tot enorme oesverliese in die Noord-Kaap gelei het.

DIE COVID-19 GESKARREL

Hoewel parstyd sowat twee weke vroeër as gewoonlik afgeskop het, het die onverwagse aankondiging van die COVID-19 inperking – wat op 26 Maart in Suid-Afrika in werking getree het – daartoe gelei dat heelwat produsente moes skarrel om die laaste druiwe vir die seisoen te pars en om die wynmaakprosesse in die kelders te finaliseer. Wynverwante aktiwiteite is aanvanklik verbied, maar die regering het op die nippertjie ʼn toegewing gemaak dat oes- en bergingsaktiwiteite, wat noodsaaklik is om die vermorsing van primêre landbouprodukte te verhoed gedurende die inperkingstyd, wel toegelaat word. Ten tyde van dié aankondiging moes sowat 40 000 ton wyndruiwe nog gepars word.

“Weens onsekerheid rondom die aankondiging van die inperking het sekere produsente besluit om druiwe sonder voorbehoud te pars om dit so gou moontlik in die kelder te kry, terwyl ander vir optimale rypheid gewag het om uitsonderlike gehalte te verseker,” sê Conrad.

2019/20 GROEISEISOEN

Die meeste streke het ʼn beter na-oesperiode as die afgelope paar jaar beleef. Die blare het ongeveer op dieselfde tyd, of later as gewoonlik geval, wingerde was gesond en produsente het toegang tot na-oesbesproeiingswater gehad.

Voldoende koue-eenhede is gedurende die winter opgebou om dormansie op te hef, terwyl reënval tussen die streke gewissel het, maar meestal ondergemiddeld was.

Die lente is gekenmerk deur gunstige toestande, wat tot ietwat vroeër maar gelyke bot bygedra het. Die vroeë groeiseisoen sal veral onthou word vir goeie, egalige lootgroei.

In die somer was temperature gematig gedurende die rypwordingsperiode, met die afwesigheid van die kenmerkende hittepieke. Hierdie toestande het veral ʼn positiewe effek op die behoud van geure in die druiwe gehad.

Reënval gedurende die rypwordingsperiode het in sekere streke druk op waterbronne verlig, terwyl dit in ander streke tot ʼn toename in siektedruk (donsskimmel, suurvrot en botritis) gelei het. Onkruidbeheer moes ook streng toegepas moes word.

WYNGEHALTE VOORTREFLIK

“Ons is opgewonde oor die voortreflike wyne wat uit die 2020-wyndruifoes gaan voortvloei, met Chenin Blanc en Chardonnay aan die voorpunt,” sê Conrad. “Die vroeë druifsoorte het goeie suur getoon, en die kleur- en tannienontledings in die rooiwyne dui op vol wyne met gekonsentreerde geurprofiele.”

Die 2020-wynoes – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn – gaan na raming 1 046.2 miljoen liter beloop, teen ʼn gemiddelde verhaling van 775 liter per ton wyndruiwe.

REG VIR DIE MARK

Nadat ʼn verbod op beide plaaslike verkope en wynuitvoere gedurende Suid-Afrika se COVID-19 inperking ingestel is, was die bedryf verlig toe die regering besluit het om wel die uitvoer van drankprodukte vanaf 1 Mei 2020 toe te laat.  Dit het die vervoer na hawens en lughawens, asook verwante aktiwiteite om wyn vir uitvoer voor te berei, soos bottelering en etikettering, ingesluit.

“Ons as bedryf is dankbaar en verlig daaroor dat ons weer met uitvoere mag voortgaan. Dit sal ons uiteindelik in staat stel om ons uitnemende 2020-oesjaarwyne aan die handel, media en verbruikers regoor die wêreld bekend te stel,” sê Siobhan Thompson, HUB van Wines of South Africa.

“Ons wil graag ons dank uitspreek teenoor almal in ons internasionale netwerk van agente, invoerders en vriende wat nooit opgehou het om ons wyne en mense te ondersteun nie, ten spyte van die uitdagings wat ons as ʼn bedryf in die gesig gestaar het,” sê sy.

Suid-Afrika is die negende grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 3.3% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en neem nagenoeg 300 000 mense in diens.

OORSIG VAN DIE STREKE:

BREEDEKLOOF
ʼn Ietwat groter oes as in 2019, maar die teenwoordigheid van wind gedurende die korrelgroeistadium het ʼn negatiewe effek op blom en set in sekere dele van die streek gehad.

KAAP-SUIDKUS
Beter opbrengste as die vorige seisoen, danksy gunstige klimaatstoestande, die implementering van Guyot-snoeistelsels, gebruik van rusbreekmiddels en wysigings tot bemestingsprogramme.

KLEIN KAROO
Weereens ʼn klein oes weens die voortslepende droogte en ʼn krimpende wingerdstand.

NOORD-KAAP
Laer as verwagte produksie vanweë erge rypskade wat aan die einde van Oktober in die laerliggende dele oos van Upington voorgekom het.

OLIFANTSRIVIER
ʼn Uitsonderlike jaar. Wingerde het goed van die droogte herstel en die streek het oor beter watervoorsiening as gedurende die vorige seisoen beskik.

PAARL
ʼn Beter oes as in 2019 danksy gunstige na-oestoestande, voldoende water vir besproeiing en matige temperature gedurende rypwording.

ROBERTSON
Kleiner opbrengste weens watertekorte in sekere dele van die streek, asook kleiner korrels as gevolg van wind gedurende set, ʼn afname in nuwe aanplantings en die voorkoms van botritis en suurvrot na reën in Januarie.

STELLENBOSCH
ʼn Groter wyndruifoes as in 2019 danksy goeie reserwes wat in die na-oesperiode opgebou is, reën gedurende die belangrike korrelgroeifase en matige klimaatstoestande regdeur die groeiseisoen.

SWARTLAND
Groter opbrengste as in 2019, gekenmerk deur goeie trosgetalle danksy goeie na-oesbesproeiing en winterstoestande. Grondprofiele is ook goed aangevul deur laat winterreënval.

WORCESTER
Wisselende opbrengste regdeur die streek, maar produsente teken oor die algemeen ʼn ietwat groter oes as in 2019 aan.

Uitgereik deur: Vinpro, SAWIS en WoSA

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back