News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in 2019 ʼn rekord lae oes behaal, grootliks vanweë die nagevolge van die voorafgaande droogte en wisselvallige weerstoestande gedurende die seisoen. Wynmakers is egter positief oor die kwaliteit van vanjaar se oes.

Die 2019 wyndruifoes word op 1 225 620 ton beraam volgens die mees onlangse beraming van die bedryfsliggaam Sawis (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels) op 26 April 2019. Hoewel dit slegs 1.4% kleiner as verlede jaar is, het die opbrengs vir die tweede agtereenvolgende jaar gekrimp en is dit die laagste oes sedert 2005 toe 1 171 632 ton gepars is.

LAAI DIE VOLLEDIGE 2019 WYNOESVERSLAG AF

“Dit was ʼn uitdagende jaar vir ons wyndruifprodusente en kelders. ʼn Afname in die wyndruifoppervlak en onreëlmatige weerstoestande het tot die kleiner oes bygedra,” sê Francois Viljoen, wingerdboukundige konsultasiediensbestuurder van die bedryfsliggaam Vinpro, wat 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede verteenwoordig.

Hoewel die meeste streke goeie reënval gedurende die seisoen ontvang het, was die nagevolge van die voorafgaande drie jaar lange droogte steeds sigbaar en wingerde en gronde sal tyd neem om te herstel. “Die na-oesperiode was steeds droog, wat beteken heelwat produsente kon nie noodsaaklike na-oesbesproeiing toepas nie. Blare het dus vroeg geval en wingerde kon nie die nodige reserwes opbou om hulle deur die seisoen te dra nie, wat in ruil ʼn effek op korrelset en -groei gehad het,” sê Viljoen.

Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens.

Uiterste weerskommelinge gedurende bot en blom, gevolg deur koel, winderige toestande gedurende set het tot minder en onegalige trosse en kleiner korrels bygedra.

“Die 2019-parstyd het uit twee dele bestaan – die eerste maklik met goeie weerstoestande en baie goeie druifontledings tot en met einde Februarie. Die tweede was moeilik, gekenmerk deur stadige rypwording weens koue, reënerige weer in Maart,” sê Viljoen.

Die Noord-Kaap, Swartland-, Paarl- en Worcester-streke het groter oeste as verlede jaar geproduseer, maar van ʼn lae basis na groot verliese in 2018. Breedekloof en die Kaap-Suidkus se opbrengste was ietwat kleiner, in lyn met die gemiddeld. Robertson en Stellenbosch het ook kleiner oeste gerealiseer, maar die Olifantsrivier- en Klein Karoo-streke is vir die tweede agtereenvolgende jaar die hardste deur die droogte getref.

Ondanks die kleiner oes, kan wynliefhebbers goeie gehalte wyne van die 2019-oesjaar verwag. Volgens Viljoen het die kleiner wyndruifkorrels groter geurkonsentrasie. Wyne is ook oor die algemeen gekenmerk deur goeie suur, suiker en elegansie, wat sprekend is van goeie gehalte.

“Ons het vanjaar weer gesien dat wyndruiwe wat virusvry is en goed bestuur word heelwat beter doen as ander in terme van beide die opbrengs en gehalte. Ons moedig alle wyndruifprodusente aan om hierdie voorbeeld te volg,” sê Viljoen.

Die 2019 wynoes – sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn ingesluit – sal na verwagting 951.8 miljoen liter beloop, teen ‘n gemiddelde verhaling van 777 liter per ton druiwe.

Suid-Afrika is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra sowat R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en het nagenoeg 290 000 mense in diens.

2018/19 GROEISEISOEN:

Die winter het laat aangebreek met goeie reënval na ʼn droër as normale na-oesperiode in herfs. Ondanks die goeie reënval, het warmer as normale temperature – veral ʼn aantal warm dae in Julie – aanvanklik tot die opbou van min koue-eenhede gelei, wat in ruil tot vroeë en ongelyke bot in sekere wingerde bygedra het. Die koue weer in Augustus het uitbot weer vertraag.

Lente is gekenmerk deur groot weerskommelinge, wat tot kleiner, losser en ongelyke trosse, asook kleiner korrels aanleiding gegee het. Wingerde was stadig uit die blokke en groei onreëlmatig weens ʼn afwisseling tussen warm en koue dae, asook koue grondtemperature.

ʼn Hittegolf aan die einde van Oktober is deur koue, winderige toestande gedurende die blom- en setperiode van heelwat wingerde gevolg. Dit het tot ongelykheid in trosse en korrels tussen wingerde in dieselfde blok en selfs op dieselfde wingerdstok gelei. Gereelde reënbuie in hierdie tyd het daartoe gelei dat produsente hard moes werk om siektes soos donsskimmel te beheer, wat in sommige gevalle tot oesverliese bygedra het.

Weerstoestande het met die aanvang van somer verbeter. Hoewel warmer weer in November wingerde goed laat groei het, kon die korrelontwikkeling nie heeltemal opvang nie. Temperature was matig gedurende Desember en Januarie, gevolg deur warm weer aan die begin van Februarie, soos verwag.

Parstyd het ʼn bietjie later as gewoonlik afgeskop, met warm weer soos gesien kan word aan die aanvanklike druifontledings. Parstyd het egter moeiliker geraak namate koel, nat toestande van die einde van Februarie en gedurende Maart oorheers het. Heelwat kultivars wat later in die seisoen ryp word, veral die rooi variëteite, het gesukkel om suiker op te bou en was teen laer suikervlakke reeds ryp.

OORSIG VAN DIE STREKE:

Breedekloof: ʼn Oes soortgelyk aan 2018, ondanks ʼn moeilike parstyd en ongelykheid wat dit moeilik gemaak het om rypheid te bepaal.

Kaap-Suidkus: ʼn Kleiner, maar uitsonderlike gehalte oes, aangesien hierdie streek tot ʼn mindere mate deur die droogte geraak is.

Klein Karoo: ʼn Baie uitdagende seisoen, met selfs laer opbrengste as die vorige twee jaar vanweë die voortslepende droogte en haelskade in sommige gebiede.

Noord-Kaap: ʼn Geseënde 2019-seisoen, met hoër opbrengste per hektaar en belowende gehalte.

Olifantsrivier: ʼn Tweede agtereenvolgende kleiner oes na ʼn rekord lae oes in 2018, weens die nagevolge van die droogte.

Paarl: ʼn Ietwat groter oes, maar van ʼn lae basis na ʼn heelwat kleiner 2018-oes, weens die voorafgaande droogte en weerskommelinge.

Robertson: ʼn Moeilike seisoen het tot ʼn groot afname in produksie gelei, vir die tweede agtereenvolgende jaar. Gehalte lyk goed.

Stellenbosch: Ondanks goeie reënval is die streek steeds deur die voorafgaande droogte beïnvloed, en is ʼn heelwat kleiner oes vir die tweede jaar ingeneem.

Swartland: Groter as ʼn baie klein 2018-wyndruifoes en die gehalte lyk belowend.

Worcester: ʼn Verbasend groter wyndruifoes na ʼn kleiner 2018-oes, met goeie gehalte wyne op pad.

UITGEREIK DEUR: Vinpro

MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back