News

Na ʼn lang en uitgerekte parstyd kan heelwat produsente uiteindelik asem skep, terwyl ander nog geduldig wag vir hul laaste druiwe om optimale rypheid te bereik.

“Dis veilig om te sê dat die meeste produsente in ʼn normale jaar teen begin April klaar gepars is, hoewel daar altyd groot variasie tussen die streke is,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se wingerdboukundige konsultasiediens. “ʼn Rits kelders het oor die afgelope paar weke op sosiale media aangekondig dat hulle uiteindelik klaar gepars is, maar daar wel ʼn paar produsente, veral in die Breedekloof, wat waarskynlik vir nog ʼn week of wat sal moet vasbyt.”

Die Suid-Afrikaanse wyndruifseisoen was reeds van meet af aan sowat twee weke later as normaal, gekenmerk deur matige en koeler weersomstandighede. Volgens SAWIS (SA Wynbedryfinligting en -Stelsels) se jongste beraming middel Maart kan die oes ietwat groter wees as in 2020, maar steeds ligter as die tien jaar gemiddeld. Hierdie was die tweede laaste beraming voordat die finale oessyfer middel Mei in die amptelike SA Wynoesverslag gepubliseer word.

Goeie opbrengste word in die meeste streke verwag, maar koeler weer lei moontlik in die Kaap Suidkus- en Stellenbosch-streke tot oesverliese weens siektedruk en in Stellenbosch het die matige temperature ook ʼn beperking op korrelgroottes geplaas, veral by vroeër kultivars soos Pinot Noir, Pinotage en Chardonnay.

“Hier teen amper die einde van die laat seisoen is wynmakers en wingerdboukundiges veral opgewonde oor goeie kleurontginning, lae pH’s en hoë natuurlike sure wat in ontledings na vore kom. Die koel weersomstandighede laat produsente toe om blokke op die optimale tyd te pars. Beide hierdie faktore dui daarop dat uitsonderlike wyngehalte uit die 2021-oesjaar verwag kan word,” sê Conrad.

Volgens Christo Spies, bestuurshoof van Farm Management Systems, dui hul WineMS-sagteware ook daarop dat parstyd sowat twee weke laat is. “Ons is tans in week 14 van parstyd en pars nou meer tonne as in week 12 verlede jaar. Na raming is 88% van die totale oes ingeneem.”

Nagenoeg 73% van alle tonne gelewer in die Suid-Afrikaanse wynbedryf word deur WineMS se sagteware vasgevang. Christo deel die volgende interessante feite uit hul sisteem oor die 2021 oes:

Het jy geweet #1

Met die reën in week 10 was daar ‘n paar streke wat op die Woensdag, 10 Maart 2021, geen druiwe ingeneem het nie – ‘n week wat tipies die piek van die jaar se pars is.

Het jy geweet #2

Ons bedryf maak seker daar word middagete geneem! Gemiddeld word heelwat minder druiwe tussen 12:00 en 13:00 ingeneem.

Het jy geweet #3

Sauvignon Blanc, Nouvelle en Semillon word oorwegend in die oggend gepars. Gemiddeld word 12% van alle druiwe voor 8:00 soggens by kelders ontvang, wat beteken dat party produsente al lekker vroeg uit die vere is.

Vir wingerdboukundige raad, kontak ʼn wingerdboukundige in jou streek, of skakel 021 276 0429.

Indien jy meer oor WineMS se inligtingsbestuurstelsel vir wyndruifprodusente en kelders wil weet, besoek www.winems.co.za of skakel 021 276 0487.

Go Back