Suid-Afrika se 2020-wyndruifoes sal volgens die bedryf se eerste skatting gelykstaande of ietwat groter as in 2019 wees, maar steeds kleiner as die gemiddelde wyndruifoes oor die afgelope vyf jaar.
Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting- en Stelsels (SAWIS) het wyndruifprodusente in 2019 ʼn opbrengs van 1.244 miljoen ton gerealiseer, en die gemiddeld oor die afgelope vyf jaar beloop 1.360 miljoen ton.
“Op hierdie vroeë stadium oordeel ons die wyndruifoes se grootte aan die verloop van die seisoen sover,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro. “Afhangend van kultivar en wyndoelwit gaan die druiwe nog vir 60 tot 100 dae in die wingerd ontwikkel en ryp word voordat dit gepars word. Binne hierdie vensterperiode kan die omgewingstoestande en bestuursinsette ʼn wesenlike effek op die finale oeskwaliteit en volume hê.”
Die meeste wyndruifverbouingstreke het tot dusver ʼn goeie seisoen beleef, met die uitsondering van wydverspreide rypskade in die Noord-Kaap en voortslepende droogte in die Klein Karoo.
Waterstatus
Danksy goeie winterreënval het die Wes-Kaap se damvlakke teen middel September, aan die begin van die groeiseisoen, op 82% gestaan. Dít teenoor 70% in 2018 en 37% op dieselfde tydstip in 2017. In die Olifantsrivierstreek, wat die afgelope paar jaar erg deur droogte getref is, is die Clanwilliamdam tans 85% vol.
Sekere ander streke se waterbeskikbaarheid sien egter nie so goed daaruit nie. Die Klein Karoo is steeds in die greep van die voortslepende droogte en in baie gevalle is die situasie ernstig. Produsente in die Robertsonstreek wat water van die Brandvleidam ontvang, het voldoende water, maar diegene wat afhanklik is van bergafloopwater is onder groot druk.
“Die Noord-Kaap het bykans geen reën deur die loop van die seisoen ontvang nie, maar die damme het oor voldoende water beskik en ons hoop dat die goeie neerslae aan die begin van Desember nog sal voortgaan in die volgende paar weke,” sê Conrad.
Die seisoen
Gunstige omgewingstoestande in die lente het tot vroeër as normale, egalige en gelyke bot bygedra. Conrad is positief oor die hoeveelheid blomtrosse en goeie set wat in Oktober waargeneem is. “Die lente was bogemiddeld warm, maar toestande het gewissel en daar het veral aan die kusstreek heelwat wind voorgekom,” sê Conrad.
Beperkte voorvalle van rypskade is ook in hierdie tydperk in sekere besproeiingsgebiede aangemeld. “Sekere dele van die Noord-Kaap is aan die einde van Oktober deur hewige rypskade geteister, wat tot noemenswaardige oesverliese kan bydra,” sê Conrad.
Hoewel die kusstreek in hierdie tyd goeie reënval ontvang het, moes produsente swamsiektes, onkruid en wingerdlowers streng beheer.
ʼn Meestal warm, winderige November het daartoe gelei dat wingerde vinniger groei, wat wyndruifprodusente genoop het om hul lower optimaal te bestuur. Conrad raai ook produsente aan om die hoër as normale siektedruk wat nou voorkom goed te moniteer en bestuur.
“Indien produsente hul wingerdbestuurspraktyke deurlopend by die omgewingstoestande aanpas, word verwag dat die 2020-wyndruifoes in die meeste streke gelykstaande of ietwat groter as in 2019 sal wees,” sê Conrad.
Die volgende oesskatting word op 24 Januarie 2020 uitgereik. Bespreek ook vir die Nedbank Vinpro Inligtingsdag op 23 Januarie 2020 by die KIKS in Kaapstad waar Vinpro meer breedvoerige terugvoer oor die seisoen en oesverwagtinge gee. Kaartjies is te koop by http://bit.ly/SALES-Infoday-2020 skakel 021 276 0429 of e-pos info@vinpro.co.za.
MEDIANAVRAE
Wanda Augustyn
Vinpro-kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za