News

Fotokrediet: Hanno van Schalkwyk.

Pinot Noir-druiwe op Twee Jonge Gezellen, Tulbagh net voor pars vir Methóde Cap Classique.

Die 2019 Suid-Afrikaanse wyndruifoes sal na verwagting slegs ietwat groter as verlede jaar se klein oes wees vanweë die feit dat wingerde steeds van ʼn drie jaar lange droogte herstel, swak weer gedurende korrelset in Oktober en ʼn voortgesette krimpende wingerdstand.

Dit volgens die tweede wyndruifoesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders wat in Januarie deur die bedryfsliggaam SA Wynbedryf Inligting & -Stelsels (SAWIS) uitgereik is.

Die 2018 oes het 1 238 000 ton beloop, 14% kleiner as die vorige jaar, hoofsaaklik vanweë die droogte.

“Een van die hoofredes vir die kleiner oes in 2019 is swak set van wyndruiftrosse wat regdeur die Wes-Kaap waargeneem word, weens koue, nat toestande en wind in Oktober verlede jaar,” sê Francois Viljoen, Vinpro Konsultasiediensbestuurder. Wingerde het ook nie regoor alle streke ewe goed gegroei nie, weens die ernstige droogte wat in die vorige seisoen ervaar is.

Die gehalte van die 2019-oes sal van die weer oor die volgende paar weke afhang, wat op hierdie stadium belowend daaruit sien, met koeler toestande. Gemiddelde tot kleiner produksies word verwag, maar die druiwe is oor die algemeen gesond danksy losser trosse wat die risiko vir vrot verlaag.

Die somerseisoen is sover gematig en daar is tans in die meeste streke voldoende watervoorsiening beskikbaar vir besproeiing gedurende die rypwordingsperiode, met die uitsondering van die oostelike deel van die Klein Karoo, wat steeds onder die droogte gebuk gaan.

“Die 2017/18 seisoen het eens en vir altyd ons verwysingsraamwerk rondom ons waterbronne en algemene denkwyse oor water verander. Ons moes aan nuwe maniere dink om water te versamel en berg, en om hierdie skaars hulpbron meer doeltreffend te gebruik. In sommige gevalle moes wingerde met 50% minder water as normaal oor die weg kom en in uitsonderlike gevalle met slegs 16% van die normale waterkwota,” sê Francois.

Sommige wingerde is erg deur die droogte getref en sal tyd neem om te herstel. Die droogte sal sonder enige twyfel ook nog nagevolge in gebiede soos die Olifantsrivier en droëlandwingerde in die kusstreke hê.

“Totale jaarlikse uitkappings oorskry steeds wat ons jaarliks aanplant – ʼn tendens sedert 2007 – en ons verloor steeds ʼn wesenlike aantal hektare per jaar aan ander meer winsgewende gewasse soos sitrus, pruime, appels en bloubessies,” sê Francois. Aanplantings het egter in 2018 weer begin toeneem.

Tendense per streek:

Noord-Kaap:
Wingerde sien goed daaruit, met geen waterbeperkings of noemenswaardige rypskade nie. Daar was egter ook nie wesenlike aanplantings in die afgelope paar jaar nie. ʼn Effens groter oes word vanjaar verwag.

Olifantsrivier:
Die streek sal nog ʼn wesenlike effek van die droogte ervaar, maar die watersituasie sien beter daaruit en gesonde toestande beloof ʼn beter oes vanjaar.

Swartland:
Die nagevolge van die droogte sal hier steeds ervaar word. Heelwat wingerde is uitgekap en die streek het swak korrelset gerealiseer, maar beter waterbeskikbaarheid sal waarskynlik tot ʼn groter oes as in 2018 aanleiding gee.

Paarl:
Die waterbeskikbaarheid in die Bergrivierbesproeiingsgebied sien heelwat beter daaruit, wat ʼn groter oes moontlik kan maak.

Stellenbosch:
ʼn Kleiner oes word verwag, vanweë ʼn krimpende wingerdstand, die nagevolge van die droogte en onegalige korrelset.

Kaap Suidkus:
Dieselfde oesvooruitskatting as verlede jaar, weens soortgelyke redes as in die Stellenbosch-streek.

Klein Karoo:
Die droogte duur voort in die oostelike deel van hierdie streek, terwyl die Montagu-streek beter daaruit sien weens toegang tot water deur die besproeiingskema. Die opbrengs sal na verwagting effens hoër wees.

Robertson:
Alhoewel die streek se wingerdaanplantings goed was, is daar steeds plase wat probleme met watertoegang ondervind en met die nagevolge van die droogte en swak korrelset word ʼn soortgelyke opbrengs as verlede jaar op hierdie stadium verwag.

Worcester:
Die streek se watervoorsiening was beter en rypskade beperk. ʼn Aantal nuwe jong wingerde sal vanjaar begin pars word en dit, tesame met gesonde toestande sal na verwagting ʼn beter oes oplewer.

Breedekloof:
Min of meer dieselfde situasie as in die Worcester-streek, maar minder optimisties oor die opbrengs vanjaar teenoor 2018.

Die amptelike Wynoesverslag word in Mei 2019 uitgereik, wanneer die finale oessyfers bekend gemaak sal word.

-EINDE-

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back