Die Suid-Afrikaanse wynbedryf verwag dat 2020 ʼn moeilike jaar gaan wees, maar bly hoopvol om voort te bou op die momentum wat in 2019 opgetel is om groot uitdagings die hoof te bied.
Sprekers tydens die 15de Nedbank Vinpro-inligtingsdag, wat op 23 Januarie 2020 in Kaapstad gehou is, was eerlik oor die ernstige realiteite wat die bedryf in die gesig staar, terwyl hulle raad gegee het oor die pad vorentoe. Nagenoeg 850 wynbedryfrolspelers het die geleentheid bygewoon, wat vir die 14de agtereenvolgende jaar deur Nedbank geborg is, met Old Mutual Insure as medeborg.
“Daar was ʼn hernieude energie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf in 2019 na ʼn lang afwaartse siklus,” sê Anton Smuts, voorsitter van Vinpro. Twee agtereenvolgende kleiner oeste weens die droogte het tot opwaartse wynprysaanpassings gelei. Dít het deurgesyfer na die plaashek en daartoe gelei dat produsente herbelê. Hy het ʼn beroep op wyndruifprodusente en kelders gedoen om hierdie momentum te behou, maar het gewaarsku daarteen om pryse sonder waardetoevoeging op te stoot.
“Daar sal steeds uitdagings in 2020 wees, soos moeilike marktoestande, beleidsonsekerheid, onteieningsdreigemente en ongunstige klimaatstoestande. Ons kan dit egter oorkom deur ons strategiese leerproses voortdurend aan te pas en saam te werk.”
Wynbedryf herbelê
“As die tweede grootste landbou-uitvoerder in Suid-Afrika, is die wynbedryf een van die min bedrywe wat tans belegging regverdig, danksy goeie gehalte produkte en herposisionering wat aan die gebeur is,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.
Die droogte het ʼn wesenlike effek op wynproduksie gehad, wat in 2018 en 2019 jaarliks met 90 miljoen liter gedaal het. Laer beskikbaarheid het hoër wynpryse tot gevolg gehad, wat gelei het tot meer volhoubare netto boerdery-inkomstes. In 2015 was slegs 15% van produsente winsgewend teenoor 28% in 2019. Sekere streke sal egter nog ʼn geruime tyd neem om te herstel na die droogte.
Daar word ook verwag dat produsente verlede jaar se oplewing van nuwe aanplantings sal voortsit, met ʼn beraamde 4 000 ha wat in 2020 geplant sal word. Hierdie sluit in Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Colombar, Chardonnay en Pinotage.
Rico het die bedryf uitgedaag om sy modelle en strategie te verfyn. “Ons moet wyn minder elasties maak, waarde groei, Suid-Afrikaanse wyn internasionaal premiumiseer, beter internasionale marktoegang beding, die voorsieningsketting konsolideer vir skaalvoordele, doeltreffendheid opskerp en die roete na die mark verbeter.”
Rico het die bedryf ook uitgedaag om in 2020 13% meer wyn (ongeveer 100 miljoen liter) as in 2019 te verkoop, sonder om wyn in te voer en met behoud van waarde. “Dit is ʼn geweldige uitdaging, maar ek glo ons kan dit met spesifieke ingrypings wêreldwyd en plaaslik regkry, terwyl ons die huidige hupstoot in wyntoerisme tot ons voordeel kan gebruik.”
“ʼn Noemenswaardige verwikkeling is die feit dat Suid-Afrika ʼn handelsooreenkoms met die VK, een van ons grootste uitvoerlande, gesluit het waardeur ons 70 miljoen liter tariefvry na die VK kan uitvoer na Brexit. Dit terwyl ons tariefvrye ooreenkoms na die EU steeds op 110 miljoen liter behoue bly.”
2020 Wyndruifoes
Daar word verwag dat die oes in 2020 in die algemeen ietwat groter sal wees as die oes van 2019, maar steeds kleiner as die gemiddeld oor die afgelope vyf jaar.
Parstyd het minstens ʼn week vroeër as gewoonlik afgeskop, na relatief matige temperature gedurende die rypwordingsfase. Die neem van monsters gedurende parstyd sal baie belangrik wees en Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens, beveel aan dat gereelde trosmonsters gedurende die oestydperk geneem word.
“Verwag die omkeer van blokvolgordes en druif-inname sal oorvleuel. Hierdie neigings sal ʼn invloed hê op die wingerd- en kelderhulpbronne. Wees voorbereid in die kelder en bestuur jou mense se emosies, want hulle gaan onder druk wees.”
ʼn Toename in plae en siektes gaan noukeurige bestuur verg, veral teen witluis en die effek van donsskimmel. Water moet konserwatief bestuur word. “Ek dink ons het geleer hoe om die goeie uit die reën te haal en die slegte te bestuur,” sê Conrad. “In die kelder moet vrugte verkoel word en gisting versigtig bestuur word. Wees paraat met beurtkrag wat dreig.”
Maak wyn lekker
Daar is ʼn groot onderbenutte mark van Suid-Afrikaners wat die besteebare inkomste én die dors het na iets nuuts en opwindends om te drink – maak seker hulle het jou wyn in hul glas. Dit was die boodskap van Brandon de Kock van die verbruikersinsig-agentskap Whyfive.
Bykans 12.5 miljoen Suid-Afrikaners verdien meer as R10 000 per maand, en diegene wat meer as R40 000 per maand verdien, het die afgelope drie jaar met meer as ʼn halfmiljoen toegeneem. “Dit is ʼn baie opwindende groep om te teiken,” sê Brandon.
Verbruikers is toenemend minder gepla oor ouderdom. “Bemark vir ʼn benaderingswyse eerder as ʼn ouderdomsgroep. Dink aan boodskappe rondom ontwerp en verpakking wat by enige ouderdom sal pas,” sê Brandon.
Nuwe verbruikers breek ook weg van nalatenskap en tradisie en soek iets buitengewoons. Vertel ʼn eenvoudige, outentieke verhaal oor jou handelsmerk wat verbruikers sal onthou. “Moenie die belangrikheid van kos- en wynervarings onderskat om nuwelinge in die kategorie te lok nie. Sodra jy hulle kry om enige wyn te drink, kry jy hulle om meer te eksperimenteer.”
Lesse uit Australië
Die Australiese wynbedryf beleef tans ʼn oplewing, sê Andreas Clark, bestuurshoof van die bedryfsliggaam Wine Australia. Uitvoere na die VSA het in verlede jaar begin toeneem na ʼn lang afwaartse kurwe van meer as ʼn dekade.
Die bedryf geniet ook ongekende sukses in Asië, veral in China waar Australië in 2019 vir Frankryk onttroon het as die grootste wynverskaffer in terme van waarde.
Danksy die China-Australië Vryhandelsooreenkoms betaal Australië sedert Januarie 2019 geen invoertariewe na China nie. Australiese uitvoerders werk ook proaktief aan verhoudings met aankopers in markte soos die VSA en China. “Ons werk hard daaraan om die invloedryke persone in dié markte te beïnvloed, sodat Australiese wyn in die geheel beter herken word,” sê Andreas.
Nog ʼn waardevolle les is hoe Wine Australia sy bemarkingsboodskap omgeswaai het van ʼn generiese boodskap na een wat streke bevorder. Die Australiese regering het $50 miljoen bewillig vir ʼn veldtog om die internasionale vraag na Australiese wyn te verhoog onder die leuse “Australian Wine Made Our Way”.
“Ramarealiteit” tref SA ekonomie
Nedbank-ekonoom, Isaac Matshego, het gepraat oor die netelige taak om die Suid-Afrikaanse ekonomie te herstel, gekenmerk deur die skuif van “Ramaforia” na “Ramarealiteit”. Suid-Afrika was die afgelope 72 maande vasgevang in ʼn groeikoers van minder as 2% – die langste afwaartse kurwe sedert 1994.
Ekonomiese oplewing gaan waarskynlik nie van verbruikers af kom nie, sê Isaac. Verbruikers se inkomste en -besteding word deur hoë skuld belemmer, terwyl die uitgebreide werkloosheidskoers (wat mense insluit wat nie werk soek nie) tans op bykans 38% staan.
Lae sakevertroue beteken dat die privaatsektor ook nie die nodige belegging vir ekonomiese groei sal onderneem nie. “Ons moet groeimaatreëls versnel met die regte beleid om nuwe beleggings in Suid-Afrika aan te moedig,” sê hy. “Dit is veral noodsaaklik om Eskom te stabiliseer.”
Isaac het sy vertroue in die huidige regering uitgespreek en hoop ʼn stabiele regering versterk die ekonomie en stimuleer groei.
Meesterplan vir landbou op pad
Op ʼn positiewe noot het die regering met ʼn Meesterplan-inisiatief afgeskop waardeur die regering, die sakewêreld en arbeid sal saamwerk om ʼn bevorderlike omgewing vir belegging en inklusiewe ekonomiese groei in die landbou- en landbouverwerkingsektor te vestig. Dr John Purchase, hoof uitvoerende beampte van Agbiz, sê onderskeie landboubedrywe neem tans aan die proses deel en die oorkoepelende meesterplan sal na raming teen einde September vanjaar gefinaliseer wees.
Handelsooreenkomste is onontbeerlik vir groei vorentoe. Sowat die helfte van Suid-Afrika se landbou-uitvoere (in waarde) is vir Afrika bestem, gevolg deur Europa en Asië. Ooreenkomste soos AfCTA (African Continental Free Trade Agreement) en ʼn voorkeur-handelsooreenkoms met die VK na Brexit sal bevorderlik wees vir handel na hierdie twee groot uitvoermarkte. Daar sal egter nog heelwat aandag gegee moet word aan voorkeur-handelsooreenkomste met Asië, ʼn mark wat groot geleentheid inhou.
“Dit gaan ʼn moeilike jaar wees, maar ek glo dinge sal beter daaruit sien in 2021. Ons kry tans al die boublokke in plek hiervoor, ondersteun deur die regering se bereidwilligheid om saam te werk,” sê John.
Werk saam vir volhoubare groei
“Ons is trots daarop om vir die 14de agtereenvolgende jaar met Vinpro saam te werk as titelborg. Ons besef dat die wynbedryf onder druk is vanweë ʼn uitdagende ekonomie, voortslepende droogte en klimaatsverandering, en is daarom daartoe verbind om met die bedryf saam te werk om volhoubare oplossings te vind,” sê John Hudson, nasionale hoof van landbou vir Nedbank Business Banking.
Nedbank Business Banking het sy strategie met die Verenigde Nasies se Strategiese Ontwikkelingsdoelwitte (SDGs) belyn, wat onder andere ondersteuning aan produsente in die vorm van finansieringspakkette vir hernubare energie en skadunette insluit. “Ons glo dat die landbousektor ʼn finansiële vennoot nodig het wat nie net die eiesoortige omstandighede en ondernemingsgees verstaan nie, maar ook relevante oplossings en ʼn moeitevrye bankervaring aan landboubesighede kan bied. Dit stel kliënte in staat om te fokus op wat vir hulle belangrik – die bestuur van hul besigheid, terwyl ons hulle help om dit om te swaai.”
MEDIANAVRAE:
Wanda Augustyn
Vinpro-kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za