News

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf sê dat die bewerings deur sekere arbeidsgroeperinge rakende die gebruik van onwettige plaagdoders en die skadelike effek daarvan op plaaswerkers ongegrond is. Dit volg na ʼn onlangse Oxfam Duitsland artikel, getiteld ‘Gift auf Wein – das lass sein!’, asook ʼn saamtrek deur Women on Farms Project oor die aangeleentheid vandag in Kaapstad.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf beskik oor een van die mees gesofistikeerde stelsels ter wêreld wat betref die regulering en naspeurbaarheid van die praktyke en produkte rondom wyndruifproduksie, naamlik die Integrated Production of Wine (IPW) skema. Volgens ʼn gesamentlike standpunt deur die wynbedryforganisasies Vinpro en Wines of South Africa (WoSA), noem die Oxfam-artikel ʼn totaal van 67 ‘onwettige’ produkte, waarvan slegs 18 gebruik mag word, soos nodig, op wyndruiwe in Suid-Afrika. Die oorblywende 49 produkte is geregistreer vir gebruik op ander gewasse, nie wyndruiwe nie.

“Elkeen van die 18 produkte is by die Departement van Landbou geregistreer en die IPW verbied die gebruik van enige ongeregistreerde produkte, in ooreenstemming met Suid-Afrikaanse wetgewing. Al die druiwe wat vir die produksie van IPW-gesertifiseerde wyne aangewend word, moet 100% IPW-gesertifiseer wees en tans is 94% van alle Suid-Afrikaanse wingerde IPW-gesertifiseer,” lui die verslag.

Die wynbedryforganisasies Vinpro en WoSA het aangedui dat hulle hulself beskikbaar stel vir konstruktiewe gesprekvoering oor die kwessie met die relevante partye.

Lees die volledige standpunt

Go Back