Daar is ‘n hernieude energie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf terwyl dit ‘n nuwe wending neem na ‘n lang afwaartse siklus. Nou meer as ooit, moet wyndruifprodusente eienaarskap van hul toekoms neem en die beskikbare geleenthede, inligting en vennootskappe benut om ‘n volhoubare toekoms te verseker.
Die 14de Nedbank Vinpro Inligtingsdag, met die tema “Dit begin met jou”, is gister by die Kaapse Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) gehou, met ‘n rekordbywoning van sowat 900 afgevaardigdes van regdeur die wynwaardeketting.
Die uitwerking van klimaatsverandering en waterskaarste op 2019 se oesjaar, pryse en winsgewendheid en die onsekerheid rondom grondhervorming was van die knelpunte wat by vanjaar se jaarlikse wynbedryfskonferensie aangeraak is.
Lae voorraadvlakke, hoër pryse
“Die wyndruifoes van 2019 sal na verwagting net effens groter wees as verlede jaar se baie klein oes, weens die feit dat wingerde steeds herstel na drie jaar se droogte, slegte weer tydens korrelset in Oktober en die vermindering van wyndruifwingerde,” het Francois Viljoen, Vinpro se konsultasiediensbestuurder gesê.
Die kwaliteit van die 2019-oesjaar sal van die weer oor die volgende paar weke afhang, wat belowend lyk met koeler toestande. Gemiddeld tot laer opbrengste word verwag, maar druiwe is oor die algemeen gesond weens losser trosse met ’n laer risiko van verrotting. Die meeste streke het voldoende water beskikbaar.
Lae wynvoorraadvlakke bied aan die bedryf ’n geleentheid om hoër pryse te bewerkstellig. “Ons het reeds die afgelope twee jaar ‘n toename van 35% tot 50% in die prys van grootmaatwyn gesien, en 10% in verpakte wyn. Kom ons bou op hierdie momentum om ‘n volhoubare omgewing vir belegging te verseker,” het Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, gesê.
Winsgewendheid steeds onder druk
Daar is egter steeds produsente wat wyn in grootmaat vir minder as R4.50/liter plaaslik aan die groothandel en R5.50/liter internasionaal verkoop. Byna die helfte van verpakte wyn wat plaaslik verkoop word, verhandel teen minder as R30/liter, in vergelyking met plaaslike bottelwater wat teen R6.00 per liter en ingevoerde water wat teen soveel as R35/liter verkoop word. “Ons kan onmoontlik volhoubaar bly teen hierdie pryse,” het Anton gesê.
Hierdie lae pryse het ook na boerderyvlak deurgesyfer, waar wyndruifprodusente die afgelope dekade en langer onder swaar finansiële druk was. “Produksiekoste het die afgelope dekade jaarliks met 7.4% gestyg, en met wynpryse wat tot onlangs gestagneer het, boer meer as 80% van Suid-Afrikaanse wynprodusente onder ‘n volhoubare netto plaasinkomste van R30 000/ha,” het Christo Conradie, Vinpro se wynkelderbestuurder, gesê.
Die onlangse wynprysverhogings het egter ‘n positiewe impak op inkomstevlakke op plaasvlak gehad, wat op sy beurt tot gevolg gehad het dat netto boerderyinkomste meer as verdubbel het, vanaf ‘n lae basis van R6 644/ha in 2017 tot R14 949/ha in 2018.
“Dit is die jaar om verhoudings met jou vennote in die wynwaardeketting te smee en te handhaaf. Weet in watter wyne jou druiwe gaan, vra jouself af waarom jou wyn op daardie spesifieke rak teen daardie spesifieke kleinhandelprys staan, doen navorsing oor die markte waarvoor jou wyne bestem is, en praat met jou aankoper daaroor. Daar is ‘n magdom inligting en insigte vir die bedryf beskikbaar deur liggame soos die SA Wynbedryfinligting en -stelsels (SAWIS) en Wines of South Africa (WoSA). Maak hulle jou vennote in sukses,” het Christo gesê.
Behandel jou kliënte soos konings
Nog ‘n belangrike vennoot vir sukses is die verbruiker. “’n Suksesvolle besigheid is een wat sy kliënte soos koninklikes behandel, deur met die oog op die einde te begin en terug te werk,” het Mark Norrish, nasionale wynbestuurder by Ultra Liquors, gesê.
Verbruikers het begin “laer koop” op handelsmerke en selfs sekere subkategorieë “uitgeruil” weens finansiële druk. ‘n Verskuiwing na innoverende kategorieë soos lae-alkohol wyne wat die verbruikers se aandag effektief kan vasvang en behou kan verwag word.
Mark beklemtoon die toenemende rol van sosiale media en kliënte se dikker stem, wat ‘n handelsmerk se beeld kan maak of breek. “As jy kliënte soos vriende behandel, sal hulle vriende word; as jy hulle soos vullis behandel, gaan jy hulle nie weer sien nie,” het hy gesê. Hy het produsente aangeraai om hul storie kort, outentiek en onvergeetlik te hou.
Hou dit eenvoudig
Verbruikers is geneig om wyn soos enige ander produk te koop, gebaseer op gerief, handelsmerkherkenning en reputasie. Volgens die Engelse wynskrywer en kritikus, Robert Joseph, beweeg verpakkingstyle oor verskillende produksielyne nader aan mekaar en dit word moeiliker om op grond van die tradisionele konvensies tussen drankies en prysbande te onderskei.
Om gedurig-veranderende smake te probeer gelukkig hou lei tot ‘n bose kringloop, aangesien lae pryse lae marges afdwing, wat min geld vir bemarking laat. Dit lei weer tot swak handelsmerke wat slegs lae pryse kan behaal. Robert het die bedryf gewaarsku om nie met sulke onvolhoubare modelle aan te hou nie, en het verduidelik dat pogings om hulle te red – soos byvoorbeeld deur op onderrig te fokus – futiel is. Verbruikers het nie onderrig nodig om tussen duur skoene of skoonheidsmiddels te kies nie, en tegnologie sny al meer die middelman uit.
In plaas daarvan stel hy modelle voor wat op handelsmerkbou fokus. “Die mees winsgewende modelle styg bo die kategorie uit en bied ervarings rondom hul handelsmerke. Generiese versnitte vereenvoudig die aankoopbesluit,” het hy gesê.
Christo het met Robert ooreengestem dat wynervarings ʼn belangrike rol daarin speel om handelsmerke te bou, en na Vinpro se hernieude fokus op wyntoerismegeleenthede verwys.
Sekerheid sal groei in agribesigheid dryf
Wandile Sihlobo, Agbiz se landbou-ekonoom, het gesê sekerheid is die een ding wat ekonomiese- en agribesigheidsgroei sowel as werkskepping aandryf.
“Om sekerheid te kry, het ons vertroue, reputasie, betroubaarheid en geloofwaardigheid by regering en beleid nodig, by besigheid in die algemeen en ook by agribesigheid,” het hy gesê.
Onsekerheid aangaande grondhervormingsbeleid en ander sleutelkwessies moet aangespreek word om vertroue te verseker – kwessies soos klimaatsverandering en die sektor se vermoë om aan te pas, waterregulasies, die bevordering van internasionale handel deur nie-tariefversperrings, asook die aanspreek van infrastruktuurbeperkings in sommige gebiede, veral die voormalige tuislande.
Wees minder bekommerd oor grondkwessie
Oor die kwessie van grondhervorming het politieke kommentator Max du Preez gesê produsente met produktiewe grond moenie té bekommerd oor die debat oor onteiening sonder vergoeding wees nie, ten minste vir die volgende paar jaar.
“Die ANC het nooit veel oor grondherverdeling omgegee nie en het sedert 1994 baie min vordering gemaak. Dit het feitlik tot stilstand gekom onder Jacob Zuma se presidentskap,” het hy gesê. “Die bekendstelling van die voorgestelde wetgewing was ‘n politieke skuif van die Zuma-kamp wat gevaar gestaan het om mag tydens die ANC se leierskapverkiesings te verloor.
”Max het vertroue in president Cyril Ramaphosa. “Die rede waarom die meeste Suid-Afrikaners pessimisties is ná die Ramaphoria van verlede jaar, is dat hulle die massiewe impak wat die Zuma-tsoenami op ons ekonomie en politiek gehad het, geweldig onderskat het,” het hy gesê.
Suid-Afrikaners bly egter moedig. “Hou op om neerslagtig te wees en laat ons dit net verby die verkiesing maak.”
Praat met mekaar
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is in ‘n plek waar die onderskeie belanghebbendes nie kan bekostig om nie met mekaar te praat oor die uitdagings wat hulle in die gesig staar nie, asook wat die toekoms inhou.
“Hierdie bedryf sal nie in staat wees om homself ekonomies of sosiaal te onderhou en werklik te transformeer sonder om ‘n verandering in ons gedrag aan te spreek nie – verander op bedryfsvlak, verander op plaasvlak en verander op persoonlike vlak. Dit kan net gebeur deur middel van konstruktiewe gesprekvoering,” het Linda Lipparoni, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Wyn en Landbou Etiese Handelsvereniging (WIETA), gesê.
Sy het verwys na verskeie programme waarin gemeenskappe, regering en nie-regeringsorganisasies by die oplos van kwessies op streekvlak betrokke is. “As ‘n produsent kan jy ook ‘n ware gesprek met jou plaaswerkers oor hul daaglikse uitdagings begin,” het Linda gesê.
Nedbank se voortgesette verbintenis
Oor die tema van vennootskap en samewerking, het John Hudson, Nasionale Landbouhoof van Nedbank besigheidbankdienste, gesê dit is ‘n voorreg om 13 agtereenvolgende jare as titelborg van die Nedbank Vinpro Inligtingsdag betrokke te wees.
“As ‘n bank is ons trots op ons betrokkenheid by die wynbedryf en ons verbintenis tot die sektor word weerspieël in die aansienlike markaandeel wat die bank oor die jare heen verkry het. Ons werk ook aktief met die bedryf op ‘n aantal vennootskappe, insluitende borgskap van die Kaapse Wynmakersgilde en betrokkenheid by die SKOP 30-program, wat fokus op vaardigheidsontwikkeling en die opleiding van wynkelderwerkers,” het hy gesê.
Saam met medeborge Old Mutual en Old Mutual Insure, het John gesê Nedbank is verbind tot die volgehoue ondersteuning van die wynbedryf en dae soos die Inligtingsdag is noodsaaklik om die hele wynketting te help om die landskap beter te verstaan en hoe om die uitdagings en geleenthede wat voorlê, die beste aan te pak.
-EINDE-
Medianavrae:
Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za