News

Prof Piet Goussard het in Februarie vanjaar die 1659-erepenning ontvang.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf neem hierdie week afskeid van ʼn groot gees in wingerdkundige kringe na die afsterwe van Prof Piet Goussard op 14 Julie 2019. Hy was ook bekend as die vader van plantverbetering.

“Prof Goussard was ʼn briljante akademikus, bekend vir sy baanbrekersnavorsing in plantverbetering en -vermeerdering, maar ook geliefd as dosent, mentor, kollega en vriend. Piet was saggeaard, met ʼn fyn humorsin en altyd bereid om te help waar hy kon. Ons innige medelye aan sy familie, vriende en bondgenote,” sê Nico Spreeth, bestuurshoof van Vititec.

Prof Piet Goussard het sy wingerdkundige loopbaan in 1971 aan die Universiteit Stellenbosch se wingerd- en wynkundedepartement afgeskop waar hy onder andere navorser, dosent en later vir 14 jaar hoof van die departement was. Hy het in 2014 as professor in wingerdkunde afgetree. In sy meer as 40 jaar by die Universiteit en deur sy breër betrokkenheid in die bedryf het hy ʼn groot rol in wingerdkundige opleiding, navorsing en tegnologie-oordrag gespeel. Dit sluit meer as 100 navorsingsartikels en drie onlangse publikasies in, waarin sy kennis en ondervinding sal voortleef as grondslag vir sekere wingerdkundige praktyke.

Hy het oor tyd verskeie toekennings ontvang, waarvan die merkwaardigste sekerlik die 1659-erepenning tydens die jaarlikse Groot Constantia Wynoesherdenking was wat in Februarie vanjaar vir die eerste keer aan ʼn wingerdboukundige toegeken is.

Die nuus van Prof Goussard volg skaars drie weke na die skielike afsterwe van nog ʼn legendariese wingerdkundige, prof Eben Archer. “Dit was in die afgelope maand hartseer om van twee groot geeste afskeid neem wat ʼn daadwerklike bydrae gemaak het in die gehalte van Suid-Afrika se wingerdkundige navorsing, praktyke en wêreldgehalte wyne. Ons dra graag ons simpatie oor aan Prof Goussard se naasbestaandes,” sê Rico Basson, bestuurshoof van die wynbedryforganisasie Vinpro.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae: Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back