News

Vinpro-bestuurshoof, Rico Basson.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het hierdie week saam met ander drankbedrywe ʼn nuwe kode bekendgestel wat as riglyn vir verantwoordelike bemarking van alkoholiese produkte in die plaaslike mark dien.

Die groepering het die Kode vir Kommersiële Kommunikasie onder die vaandel van Aware.org (die assosiasie vir alkoholverantwoordelikheid en -opvoeding) uitgereik, met die oog daarop om duidelike riglyne te bied vir die verantwoordelike bemarking van wyn- en ander alkoholiese produkte en om sodoende die skadelike effek van alkoholmisbruik in gemeenskappe te bekamp.

“As wynbedryf ondersteun ons die Kode heelhartig,” sê Rico Basson, bestuurshoof van die wynbedryfliggaam Vinpro. “Ons besef die noodsaaklikheid van selfregulering in ʼn omgewing waarin die misbruik van ons produkte verreikende negatiewe gevolge kan meebring. Deur voldoening aan die Kode neem elke kelder, handelaar en bemarkingsagentskap eienaarskap daarvan om meer bedag te wees op die manier waarop ons ons produkte aan die algemene publiek voorstel.”

Die Kode is ʼn uitkoms van ʼn twee jaar lange konsultasie tussen die drankbedryf en verskeie nasionale departemente te midde van voorgestelde wetgewing wat die bemarking van alkoholiese produkte aansienlik wil inperk.

Riglyne in die Kode sluit onder andere ʼn verbod op die oprigting van advertensieborde binne 500 m van skole, kerke of gemeenskapsentrums in, ouderdomsverifiëring vir gebruikers op webblaaie, en ʼn duidelike boodskap van verantwoordelike gebruik op handelsmerke se sosiale media platforms. Daar is ook sekere beperkings op die tye en manier waarop alkoholiese produkte op die radio, televisie en fliekteaters geadverteer mag word.

“Dis noodsaaklik dat almal in ons bedryf die Kode implementeer. Vinpro is reeds in gesprek met ons lede om hierdie implementering te verseker,” sê Rico.

Die wynbedryf is ook verbind tot die oorkoepelende doelstellings van Aware.org en skakel in by inisiatiewe wat fokus op die bekamping van alkoholgebruik deur minderjariges, fuifdrinkery en loop of bestuur onder die invloed van drank, asook die bekamping van fetale alkoholsindroom in kwesbare gemeenskappe. Die Aware.org Vinpro Stigting Wynprojek bied, onder andere, maatskaplike ondersteuning aan meer as tien wynbedryfgemeenskappe, met ʼn spesifieke fokus op hierdie en verwante sosio-ekonomiese aangeleenthede.

Volgens Ingrid Louw, uitvoerende hoof van Aware.org word die Kode nie ingestel om vinger te wys nie, maar bied dit ʼn geleentheid aan die onderskeie bedrywe om as ʼn eenheid meer strategies, kreatief en verantwoordelik oor hul produkte te praat, hetsy op televisie, radio, advertensieborde of digitale media.

Vir meer inligting, of om die Kode af te laai, besoek www.aware.org.za/code-of-communications/.

MEDIANAVRAE
Wanda Augustyn
Vinpro-kommunikasiebestuuder
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back