News

Wyndruifprodusente en wingerdboukundiges kan hulle toerus met die nuutste wingerdtendense en advies by die Winetech Vinpro Streeksinligtingsdae, wat van 17 September tot 3 Oktober in die onderskeie wyndruifverbouingstreke aangebied word.

Buiten ʼn voortreflike reeks aanbiedings ontvang elke bywoner ʼn gratis eksemplaar van die boek Soil Preparation for Sustainable Wine and Table Grape Vineyards in South Africa. Dié nuttige publikasie is deur welbekende grondkenners drs Johan van Zyl en Eduard Hoffman saamgestel en deur Winetech, Villa en SATI (Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf) uitgereik.

Vinpro-kundiges deel in Robertson, Worcester en Paarl die lesse wat Suid-Afrika van Australië kan leer in terme van nuwe wingerdtegnologie, verwikkelinge en implemente, asook tradisionele grondbestuursbeginsels.

Elke streeksinligtingsdag dek verder temas relevant tot die streek, onder andere, effektiewe waterverbruik en onderhoud van besproeiingstelsels in die Paarl en Swartland, die verklaring van seisoenstendense in die Robertson-streek, asook die samestelling en kostebestuur van ʼn goeie chemiese spuitprogram en praktyke wat grondgesondheid kan verbeter in die Worcester- en Breedekloofstreke.

Sprekers by die Stellenbosch-inligtingsdag ondersoek wêreldwye tendense in organiese en biodinamiese wynmarkte, hersien goeie mierbestuurspraktyke, interpreteer grondanalises ten opsigte van fosfaat, en gee ʼn oorsig oor die gebruik van deklaag en nematodes as indikators vir grondgesondheid.

Met die aanvang van die lente bespreek kenners in die Olifantsrivierstreek ʼn lentebesproeiingstrategie vir optimale wortelgroei, hervestiging van wingerd in die konteks van netelblaarvirus, asook ogie-gesondheid ten opsigte van knopmyt, oogvrugbaarheid en die invloed van primêre oognekrose op produksie.

Die streeksinligtingsdae vind as volg plaas:
17 September: Nelson Wyne, Paarl
19 September: Hazendal Wyne, Stellenbosch
25 September: Agri Expo Saal, Robertson
26 September: Rooms with a View, Vredendal
3 Oktober: Dasbosch Kelder, Rawsonville

Kostes wissel tussen R150 en R270 per persoon (BTW ingesluit). Kry die volledige program en registreer aanlyn by www.sales.vinpro.co.za/events/.

Vir meer inligting, kontak Gaynor Fortuin by 021 276 0432 of gaynor@vinpro.co.za.

 

Go Back