News

Daar is volop patriotiese redes om Pinotage, Suid-Afrika se trotse eie druifsoort te bemark, maar wat is die praktiese redes?

Tye vir Pinotage het verander sedert prof Abraham Izak Perold in 1925 Hermitage en Pinot Noir gekruis en slegs vier saadjies in sy eie tuin geplant het. Die wingerd wat hieruit gegroei het, is in 1935 op onderstokke van Richter 99 en 57 geënt omdat die vorige plante so met virus besmet was dat hulle vernietig moes word. En so is Pinotage gebore.

Daar word algemeen aanvaar dat die eerste eksperimentele wingerd van Pinotage op Elsenburg gevestig is, aangesien CT de Waal, toe ’n dosent by Elsenburg, die eerste Pinotage in klein vate in 1941 daar berei het. Die eerste kommersiële aanplanting van Pinotage volg in 1943 op die plaas Myrtle Grove naby Sir Lowry’s Pass. Dit was egter eers in 1959 en 1961, toe Bellevue en Kanonkop onderskeidelik die gesogte Generaal Smuts Trofee by die SA Jongwynskou met hul Pinotage wen, dat wynmakers van hierdie druifsoort begin notisie neem het. Stellenbosch Farmers’ Winery (nou Distell) spog kort hierna in 1961 met die heel eerste etiket met die naam Pinotage daarop toe hulle die 1959-oesjaar van Bellevue onder die naam Lanzerac Pinotage uitreik.

Toe Kanonkop se Pinotage in 1991 die Robert Mondavi Trofee vir Beste Rooiwyn by die International Wine & Spirits Competition in Londen wen en Beyers Truter as Beste Wynmaker van die Jaar aangewys word, het Pinotage weereens geskiedenis gemaak. Die beoordelaars het talle byvoeglike naamwoorde en frases vir die wyn gebruik: “ongelooflike potensiaal”; “die toekoms van Suid-Afrika”; en “neem die druifsoort ernstig op”. En sedertdien word Pinotage as aparte kategorie beoordeel, soos ook die tradisionele Europese kultivars.

Pinotage vandag

Vandag is Pinotage, na vele suksesse en mislukkings, steeds een van die mees omstrede druifsoorte. Beskrywings soos “geroeste spyker”; “naelpolitoer”; “warm”; “aaklig”; en “dikvoet” het baie gedoen om hierdie druifsoort onder verdenking te plaas.

Dit is juis waarom die Pinotage Assosiasie besluit het om vorentoe te kyk. ’n Groot aantal aandeelhouers, wynmakers, mediaverteenwoordigers, produsente en belanghebbendes in die wynbedryf het onlangs gesprek gevoer oor die stand van sake wat betref die status van Pinotage én waarheen die druifsoort op pad is. Onderwerpe onder bespreking was hoe om produsente met mekaar te verbind, hoe om die kultivar in gewildheid te laat toeneem en wat produsente kan doen om kennis te deel en die beeld van die druifsoort te verbeter.

De Wet Viljoen, medevoorsitter van die Pinotage Assosiasie, verduidelik: “Ons is ’n dinamiese vereniging wat die menings van ons lede hoog op prys stel. Ons wil uit tweede rat na vyfde versnel. Ons wil wegdoen met die persepsie dat Pinotage ’n geslote klub is wat deur ’n paar oumense bestuur word. Ons wil Pinotage toegankliker maak en op ’n dinamiese en kreatiewe wyse na die verbruiker neem. Pinotage moet inklusief wees en ons wil met al die style spog.”

Uitdagings

Om ’n toekomsplan op te stel, is dit egter nodig om stip te kyk na waar Pinotage nou is. Volgens De Wet is een van die probleme die Suid-Afrikaanse persepsie van die druifsoort. “Daar word deesdae oor Pinotage gepraat. Dit wil voorkom of ons wegbeweeg van die tyd toe dit ‘koel’ was om iets negatiefs oor Pinotage kwyt te raak na ’n nuwe era waar dit ‘in’ is om iets opbouends te sê. Pinotage kan sy man staan op die wêreldmark. Die feit dat hierdie mark Pinotage aanvaar het, is ’n bewys dat ons op die regte pad is. Die uitdaging lê daarin om die plaaslike mark en produsente te kry om dit te glo en Pinotage te bevorder.”

Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie en pionier van die trots Suid-Afrikaanse produk, stem saam. Volgens hom moet persepsies oor die druifsoort afgebreek word deur mense die wyn te laat proe. “Mense wat Pinotage kritiseer, proe dikwels nie eens die wyn nie. Die bewys lê in die proe van die wyn en die smaak daarvan. Hoe meer ons mense kan blootstel aan die wyne wat ons maak, hoe meer mense sal daartoe ‘bekeer’ word.”

Nog ’n uitdaging is die gebrek aan beheer wat ons het oor die grootmaatuitvoere van wyn na ander lande waar dit as Suid-Afrikaanse wyn, of dan nou Pinotage, gebotteleer word. “Wanneer die grootmaatwyn die hawe verlaat, verloor ons beheer oor verder gebeur,” sê De Wet. “Ek weet dit is nie tot Pinotage beperk nie, maar dit kan baie skade aanrig as dit die verwagting van internasionale verbruikers oor Pinotage knou.”

Ander uitdagings wat na vore gekom het, is die gehalte van die kommunikasie met die bedryf, handel en verbruikers. En dan die kwessie van styl. Doen ons die koffie-ding, of maak ons trofeewenners? Waar pas die verbruiker in?

Vir De Wet gaan dit egter om kultivaregtheid, om elegante en goed gebalanseerde wyne. “Dís wat ons moet bemark! Moenie Pinotage in ’n blik probeer druk deur te sê hoe dit moet lyk en smaak nie. Die terroir sal self praat. Pinotage werk vir verskillende style, of dit nou ’n koffiestyl, ’n deur hout gedrewe of ’n ernstige styl is. Ek glo ons kan, danksy die veelsydigheid van hierdie druifsoort, aan al die behoeftes van verbruikers voldoen. Dit moet ons mikpunt wees.”

Vir Beyers is dit ook verblydend om te sien hoeveel verskillende Pinotage-wyne uit verskillende streke kom. “Wynmakers maak deesdae hierdie wyn volgens hul terroir, en die wyne spreek daarvan. Jy kry nie dieselfde styl Pinotage uit Hermanus as uit die noordelike deel van Stellenbosch nie. En ja, daar moet kommersiële style ook wees. Dis immers aanvaarbaar vir alle ander druifsoorte dwarsoor die wêreld.”

Pinotage as handelsmerk

Druifsoorte is vandag ook handelsmerke. En hierdie handelsmerke moet bemark word. Die Pinotage Assosiasie beywer hom vir die bevordering van dié druifsoort, maar daar is sekerlik ’n sterker bemarkingstrategie nodig en ook iemand wat kan kommunikeer om hierdie strategie ten uitvoer te bring.

Volgens Beyers word Pinotage wyd en syd bemark – in koskonserte, op internasionale proeë, net waar hulle kan. En wanneer hy na wynpryse kyk, is Pinotage beslis beter daaraan toe. “Jy kry vandag selde ’n Pinotage onder R100. Daar is selfs Pinotage-wyne wat R1 000 kos! En kyk net wat behaal Pinotage-wyne op veilings en in die algemene handel.”

Hoe bemark ons Pinotage as handelsmerk?

“Ek sien Pinotage in dieselfde lig as die Rooiboshandelsmerk,” sê De Wet. “ Die hele wêreld is gaande oor rooibostee en daar was al ’n hele paar hofsake daaroor (altyd ’n goeie aanduiding van sukses!). Pinotage is eie aan Suid-Afrika en dit het ’n unieke verkoopspunt (die sogenaamde USP, unique selling proposition) vanweë sy geskiedenis en sukses. Mense hou van stories met ’n gelukkige einde! Ek glo aan binnetoe kyk voor ons dit buitetoe neem. Kom ons verkondig die boodskap aan die plaaslike mense, aan almal! En dan neem ons dit gesamentlik na die res van die wêreld.”

Vir De Wet lê die antwoord by ‘méér is beter’. Daar moenie slegs op die eiesoortigheid van Pinotage klem gelê word nie, maar ook op die veelsydigheid daarvan. “Die toekoms lê daarin opgesluit om plaaslike wynliefhebbers en niewyndrinkers ambassadeurs van Pinotage te maak. Om hierdie druifsoort na die volgende vlak te neem, moet ons die idee laat posvat dat dit ons almal s’n is. Dat ons trots behoort te wees op die kultivar. Pinotage het alles in sy guns: ’n kort, maar boeiende geskiedenis, ’n eg-Suid-Afrikaans herkoms, wyne wat verskeie kere internasionaal bekroon is. Dit is nou tyd om die aflosstok oor te gee aan die volgende generasie wynmense.”

“En ek sal graag wil sien dat Pinotage as een van die beste rooidruifsoorte in die wêreld erken word, juis omdat dit ons eie is,” sluit Beyers af.

Soos gepubliseer in die September 2015 uitgawe van WynLand tydskrif.

“,281

Go Back