Soos in die bekende kinderliedjie van ouds, het drie wynmakers met stok en hoed – en waarskynlik ’n paar bottels Suid-Afrikaanse voggies in hul tas – vol moed die pad oorsee gevat. Ná ’n paar draaie in ander wynlande, deel hulle die vernaamste lesse wat hulle geleer het.

Carl van der Merwe.
SA SE GRONDE EN VERSKEIDENHEID TEL IN ONS GUNS
Carl van der Merwe, DeMorgenzon
Vertel ons van jou wynreis tot nou.
Met ’n BSc Agric in besigheidsbestuur en wynkunde van die Universiteit Stellenbosch in my sak, het ek eers by Longridge en toe in Washington, Amerika, gewerk. Van 2001 tot 2006 was ek wynmaker by Quoin Rock, waartydens ek ook in Bordeaux gepars het. Hierna het ek by DeMorgenzon aangesluit, waar ek sedert 2010 uitvoerende hoof en keldermeester is. In 2012 was ek een van 10 internasionale wynmakers wat gekies is om in Ningxia, China, te pars as deel van ’n bemarkingsinisiatief.
Hoe het jy Ningxia ervaar?
Ningxia was fassinerend! Die Chinese se vasberadenheid en hoe groot hulle dink, is merkwaardig. Wingerdverbouing is nie maklik nie. Gegewe die wintervries moet hulle selfs die wingerdstokke begrawe om dit teen sapvries te beskerm. Plaag- en siektedruk is laag danksy die droë somers en wingerde word ten volle besproei.
Watter lesse kon jy by medewynmakers leer?
Die kuns van wynmaak is feitlik dieselfde regoor die wêreld. Ningxia was vir ons almal ’n nuwe terrein en dit was die eerste jaar dat die kompetisie in China aangebied is. Daarom was daar soms heelwat frustrasies en het dit goeie spanwerk geverg.
Wat is die SA wynbedryf se sterk punt?
Ek glo daarin om wyne te maak wat hul oorsprong weerspieël. Die diversiteit en ouderdom van Suid-Afrika se gronde stel ons in staat om ’n verskeidenheid variëteite te verbou, en ons warm somers, koel nagte en see-invloed bring ’n eiesoortige varsheid na ons wyne.
Watter wyn geniet jy saam met ’n Trots SA-dis?
Chenin Blanc is so veelsydig, van ’n vruggedrewe styl saam met ’n somerbraai of Weskus-oesters tot ’n intense, eikehoutverouderde Chenin saam met geskroeide tuna in ’n botter-en-roomsous.

Gerhard Smith.
LEEF NABY DIE WINGERD
Gerhard Smith, Creation Wines
Vertel ons van jou wynreis tot nou.
Nadat ek ’n BSc Agric in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het, het ek Coonawarra, Australië en Washington, Amerika, verken. In my tyd by Lanzerac van 2001 tot 2004 het ek ook in St Emillion, Frankryk, gepars. Hierna is ek na Gladstone Vineyard in Martinborough, Nieu-Seeland, vir ’n nuwe wynmaakuitdaging wat eindelik nege jaar geduur het. Ná my terugkeer na Suid-Afrika in 2012 was ek wynmaker by La Vierge en in 2017 het ek by die Creation Wines-span as wynmaker aangesluit.
Wat het jy by die Kiwi’s geleer?
Nieu-Seeland het my ’n waardering vir koueklimaat-wingerdverbouing gegee en my liefde vir Pinot Noir aangewakker. Ek was in beheer van ’n 200 ton-kelder en moes vinnig selfstandig leer werk en my boer-maak-’n-plan-ingesteldheid is gou uit nood gevestig. Ek het ook geleer om baie nou saam met my wingerdbestuurder te werk. ’n Wynmaker in die wingerd is ’n gevaarlike ding, maar jy moet weet hoe om die beste uit jou blokke te kry as jy great wyn wil maak.
Kon jy die Kiwi’s enige boereplanne leer?
Hoe om te braai en hoe om nederig te bly – die Springbokke het in daardie tyd maar swaargekry teen die Kiwi’s. Ek het eintlik meer by hulle geleer – om hardwerkend en sonder fieterjasies te wees, en naby aan die wingerd te leef.
Wat is jou wynmaakfilosofie?
Boer reg en probeer om dit nie in die kelder op te neuk nie. Ek probeer elegante wyne maak wat die terroir weerspieël, maar bowenal moet dit ’n plesier wees om te drink.

Mark van Buuren.
KANNIEDOOD TUSSEN KANNIEDODE
Mark van Buuren, Anthonij Rupert Wyne
Vertel ons van jou wynreis tot nou.
Nadat ek vir Elsenburg se keldertegnologiekursus afgekeur is, het ek met my “indrukwekkende” CV gaan smous. Van 1997 tot 2001 was ek assistentwynmaker by Hartenberg en van 2007 tot 2009 wynmaker by Guardian Peak. In hierdie tyd het ek in Bordeaux, Pomerol en St Emillion, Frankryk, en Suid-Stirië, Oostenryk, gewerk en oplaas my Elsenburg-kwalifikasie behaal. Ek en my vrou het in 2009 impulsief en onbepaald na Australië vertrek, waar ek as Laffort Australië se verteenwoordiger in Queensland, Nieu-Suid-Wallis en Canberra aangestel is. Ek was bevoorreg om in 2013 na Suid-Afrika terug te keer as wynmaker by Anthonij Rupert Wyne waar ek die wit- en roséwynproduksie vir die Protea-, Terra del Capo- en Cape of Good Hope-reeks oorsien.
Wat is die grootste verskil tussen Australië en SA se wynbedryf?
Die geografiese verspreiding – die buitewyke van die Wes-Kaapse wynlande is hoogstens 600 km van mekaar, teenoor die 4 200 km tussen Margaret River in die weste en Hunter Valley in die ooste van Australië. Die vervoer- en logistieke stelsels is ongelooflik en dis nie vreemd vir produsente om druiwe oor hierdie afstande te vervoer nie.
Australiërs is kanniedoods en werk baie doeltreffend met minder mense. Hulle het ’n eenheidsgevoel en hou gereeld proeë om met mekaar te klankbord. En daar is nie ’n Australiese kelder sonder ’n groot klankstelsel en goeie voorraad koue bier in die yskas nie!
Kon jy die Aussies iets leer?
Ek het my dyspier verrek in ’n poging om hulle rugby te leer speel, maar ek glo ek kon hulle darem ook goeie wynverwante raad gee. Maar dit was vir my ’n groter leerskool, soos om saam met Andrew Spinaze van Tyrrell’s Wines, wat sedert 1980 by hulle is, deur hul tenke te proe. Dan sê jy bitter min en luister baie.
Wat het jy die meeste gemis?
Jy vind wel jou voete oorsee en dis wonderlik, maar ná die geboorte van ons twee seuns het ek my familie en vriende baie gemis. My raad is om boots and all te gaan. En beskou die verandering as jou nuwe toekoms.