News

Vititec, die toonaangewende verskaffer van hoëgehalte wingerdplantmateriaal, het Donderdag 13 Februarie ʼn proe van die nuutste beskikbare wyndruifklone in die Suid-Afrikaanse wynbedryf by Vinpro se hoofkantoor in die Paarl aangebied.

Vanjaar is sowat 20 nuwe en bestaande wyndruifklone deur ʼn groep wynmakers en produsente uit die bedryf, asook uitgesoekte media geproe en beoordeel. Van die opwindende nuwe druifsoorte en klone sluit Grüner Veltliner, Vermentino en Macabeau in.

Vititec produseer jaarliks tussen 50 en 60 eksperimentele wyne op kleinskaal by die Universiteit Stellenbosch.

Volgens Charles Visser, Vititec-wingerboukundige, word die beoordeling volgens ʼn spesiale proekaart gedoen volgens belangrike kriteria insluitend kwaliteit en intensiteit van geur, en of dit tipies van die druifsoort is. “Die Chenin Blanc moet soos Chenin Blanc proe,” sê hy.

Bekendstelling van klone

Vititec het in 2017 ʼn klonetuin by hul hoofkantoor in Paarl gevestig waar sowat 255 verskillende jong wyndruifklone besigtig kan word.

Die klonetuin skep die geleentheid om nuwe wyndruifklone en druifsoorte aan die bedryf bekend te stel. “Ons brei voortdurend ʼn genepoel van druifsoorte uit vir produsente en wynmakers om vanuit te kies,” sê Charles. Hy sê dit is ook belangrik om te bepaal hoe goed ʼn druifsoort in sekere gebiede vaar.

Vititec werk ook in noue genootskap met die Gen-Z Wingerdprojek, om wyndruifklone in verskillende gebiede te plant. Die Gen-Z Wingerdprojek is ’n bedryfsinisiatief wat deur Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens gekoördineer word. Die projek het ten doel om die nuutste tegnologie, navorsing en praktyke na verskillende streke oor te dra deur proefpersele te vestig en die resultate met die bedryf te deel.

Waardevolle terugvoer

Volgens Charles bied die kloneproe ʼn geleentheid vir wynmakers om aan te dui of hierdie wyne kommersiële waarde inhou. Dit bied ook die geleentheid om spesifieke klone te evalueer en uit te vind of die kenners van die bedryf glo dat die kloon vir Suid-Afrika se terroir geskik is.

“Die terugvoer uit die bedryf self is broodnodig en rigtinggewend. Hoewel dit ʼn lang proses van invoer tot produksie is, is die belangstelling in spesifieke klone en druifsoorte ʼn goeie aanduiding of die plantmateriaal vermeerder moet word,” sê Charles.

Die Grenache Noir, Vermentino en Marselan het tydens die kloneproe uitgeblink.

Vir onafhanklike wingerdkundige Marko Roux is Grenache Noir kloon 513 veral ʼn belowende kultivar, aangesien hierdie druifsoort wingerdboukundig aan al die vereistes voldoen en die druiwe mooi wyne lewer. “Dit bied weerstand teen droogte en wind, groei baie goed en gee goeie opbrengste,” sê hy.

Marselan bied egter groter weerstand teen siektes as die Grenache Noir. “Dit sal interessant wees om op kommersiële skaal aan te plant,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens.

Hy het die Pinot Noir-klone geniet wat te proe aangebied is en sê kloon 943 kan ʼn interessante bydrae tot die wyn in die Elgin-streek lewer.

Vititec voorsien meer as 95% van die bostokplantmateriaal en nagenoeg 50% van die onderstokplantmateriaal aan die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

MEDIANAVRAE:
Charles Visser
Tel 021 276 0482
E-pos visser@vititec.com

KYK DIE VIDEO:

 

 

 

Go Back