News

Vinpro bied steeds sy gewilde opleidingskursusse vir wingerdspanne aan, maar net in ʼn nuwe formaat om die verspreiding van COVID-19 te verhoed.

Wyndruifprodusente kan nou versoek dat praktiese demonstrasies in die vorm van ʼn halfdagkursus op die plaas aangebied word, vir nie meer as 15 persone nie. Hierdie nuwe formaat vervang die gebruiklike voorafbepaalde voldagkursusse wat beide teorie en prakties vir groter groepe behels het.

“Dit is vir ons belangrik dat wingerdwerkers deurlopend bemagtig word deur opleidingsgeleenthede soos die wingerdkursusse, terwyl ons hul veiligheid hoog ag,” sê Hanno van Schalkwyk, Vinpro-wingerdkundige en koördineerder van die kursusse. “Deur die formaat aan te pas, wil ons die vervoer en byeenkom van wingerdspanne in een lokaal verhoed en die verspreiding van COVID-19 beperk.”

In die plek van die tien opleidingsmodules kan produsente nou uit twee praktiese sessies kies wat op hul plaas aangebied kan word.

Winteropleiding:

  • Basiese snoei beginsels (kort-, halflangdraer en Guyot-stelsels)
  • Onderhoud van snoeiskêre
  • Voorkoming van stamsiektes
  • Korrekte planttegniek van jongstokkies.

 Someropleiding:

  • Basiese werking van die wingerdstok
  • Doel van lowerbestuur
  • Verskillende lowerbestuurtegnieke
  • Jongstokontwikkeling
  • Algemene siektes en plae.

Elke persoon wat die opleiding bywoon sal ʼn gratis veiligheidsmasker ontvang, terwyl die basiese gesondheidsmaatreëls sal geld, onder andere temperatuurmeting, die was en saniteer van hande, asook die handhawing van sosiale afstand gedurende die sessies.

Vinpro het verlede jaar, te danke aan finansiële ondersteuning deur die Vinpro Stigting, meer as 1 000 persone touwys gemaak oor die beste wyndruifverbouingstegnieke. Vanjaar is Columbit as nog ʼn waardevolle vennoot by die opleiding betrokke.

Die koste beloop R210 per persoon. Bespreek nou ʼn praktiese opleidingsessie deur die Vinpro-opleidingskantoor te kontak by tel 021 276 0429 of e-pos training@vinpro.co.za.

MEDIANAVRAE:

Wanda Augustyn
Vinpro-kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0429
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back