’n Memorandum van Verstandhouding tussen Vinpro en Wesgro sal nuwe momentum aan wyntoerisme in Suid-Afrika verleen met ’n nuwe en opwindende vennootskap.
Saam met die aanstelling van ’n nuwe Vinpro wyntoerismebestuurder, Marisah Nieuwoudt, in Januarie, maak die Memorandum van Verstandhouding tussen die SA Wynroeteforum en Vinpro die weg oop vir ’n nuwe era van samewerking, innovering en geleenthede in die plaaslike wyntoerisme-sektor.
Die doelwit met hierdie nuwe vennootskap is om Suid-Afrikaanse wynstreke en handelsmerke te benut om die hele sektor te versterk, dit verder te ontwikkel en om internasionale erkenning te verkry.
Die gesamentlike poging sal daarop fokus om reis en handel te bevorder, plaaslike en internasionale media te huisves, feeste en geleenthede as advertensie vir Suid-Afrika se wyntoerisme-aanbiedinge in te span, en digitale bemarkingskanale te verbeter. Dit sal met ’n navorsingsagenda, gehaltebestuurprogram en die skep van opleidingsgeleenthede vir werkers in die wynbedryf gepaardgaan.
Die visie is om Suid-Afrika as ’n toonaangewende wyntoerismebestemming in die globale arena te vestig, bekend vir onvergeetlike ervarings, gehalte wyn, uitsonderlike kos en ’n toewyding aan verantwoordelike toerisme.
“Deur die gesamentlike ontwikkeling en uitbreiding van wyntoerisme wil ons ’n groter verskeidenheid besoekers na Suid-Afrika lok en die verspreiding van besoekers na kleiner en landelike areas verbeter,” sê Christo Conradie, bestuurder van Vinpro se wynkelderdivisie. “Ons wil ook plaaslike inwoners aanmoedig om na die bron van wyn te reis en die wye verskeidenheid ervarings in die onderskeie wynstreke te beleef om sodoende die groei van plaaslike toerisme te bevorder, veral op landelike vlak, wat ’n regstreekse impak op besigheidsontwikkeling en werksverskaffing sal hê.
“Dit sal ’n domino-effek van meer werkgeleenthede en nuwe besigheidsgeleenthede binne die wynbedryf en wyntoerisme-sektor tot gevolg hê, asook in die wynstreke oor die algemeen, met ’n fokus op swart besigheidsontwikkeling en -werkverskaffing.”
Wesgro se uitvoerende hoof, Tim Harris, het die ondertekening van die Memorandum van Verstandhouding met Vinpro verwelkom. “Met die Wes-Kaap aangewys as een van die 10 Beste Wynbestemmings in 2018 deur Wine Enthusiast, kon die tydsberekening vir hierdie verstandhouding nie beter wees nie. Wyntoerisme in ons provinsie is besig om te groei en ons is opgewonde om saam met Vinpro te werk om seker te maak ons benut alle geleenthede wat hierdie groeiende sektor bied.
“Ons is vol vertroue die bemarkingsprojekte wat ons binnekort gaan loods sal mense bewus maak van wyntoerisme-ervarings in die provinsie en besoekersgetalle regoor die streek ʼn hupstoot gee,” het Harris afgesluit.
-Einde-
Uitgereik deur: VinPro
Medianavrae: Wanda Augustyn
VinPro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0463
E-pos: wanda@wineland.co.za