News

MeganisasieGemeganiseerde stelsels word met sukses in Australië gebruik en is plaaslik deur Hannes Erasmus aangepas en op die proef gestel.

 

Die Robertsonwyndruifprodusent, Hannes Erasmus, is nuuskierig van aard. Hy luister aandagtig, is konstant op soek na maniere om dinge beter te doen en is ’n sprekende voorbeeld van die waarde van innovasie op grondvlak.

 

Die sogenaamde Erawingerdopleistelsel is op ’n vlug terug van Australië gekonseptualiseer, waar hy en Robertson Kelder se wingerdkundige, Briaan Stipp, in 2000 en 2004 na dié Nuwe Wêreldwynstreek se gemeganiseerde produksiestelsels gaan kyk het. Die Aussies se stelsel is aangepas om voorsiening te maak vir die winderige toestande in die Wes-Kaap, met ’n bykomende draad net bo die kordondraad wat lote stabiliseer.

 

En so is die Era-stelsel tot stand gebring en op Hannes se plase in Robertson aangeplant. Hy vertel hy het aanvanklik heelwat teenkanting oor die vestiging van wingerd gekry wat ten volle meganies bestuur word. Maar die wiel het gedraai en intussen het belangstellendes van Upington tot Stellenbosch en vanuit ander lande na hierdie stelsel kom kyk en dit self ook aangewend.

 

Kwaliteit bevestig

Een van die groot vraagtekens oor gemeganiseerde stelsels is die invloed op die kwaliteit van die eindproduk. Die wyn het die praatwerk gedoen en Hannes sê gemeganiseerde stelsels lewer in heelwat gevalle beter kwaliteit as konvensionele wingerde. Hannes het die afgelope twee jaar die VinPro Blokkompetisie in die Robertsonstreek gewen met meganiese wingerdblokke.

 

“Die trosse en korrels van die Era-stelsel is opvallend kleiner as dié van handgesnyde wingerde,” sê hy. “Boonop is die trosse beter verspreid en is daar gesonde blare wat die trosse teen sonlig beskerm. Die wyn toon ook ’n goeie balans tussen tropiese en groen geure vir dié streek.”

 

Dit geld ook nie net vir Sauvignon Blanc nie. Daar is proewe in die kelder gedoen om die kwaliteit van die Era-oes te beoordeel en dit het nie kortgekom nie. Hannes sê buiten Sauvignon Blanc, is Shiraz en Chardonnay ook besonder geskik vir gemeganiseerde produksie. Maar Petit Verdot se dun lote maak dit moeilik vir meganiese produksie, terwyl daar ook vraagtekens oor Pinotage is omdat dit heelwat lote dra en daarom te dig kan raak.

 

Opbrengs en volhoubaarheid

Hierdie gemeganiseerde stelsel lewer hoë opbrengste, maar Hannes beklemtoon dit behoort nie die doel van die stelsel te wees nie. “Jy spaar genoeg deur laer insetkoste. Dit is nie nodig om nog bo-op dit opbrengs te jaag nie.”

 

Hy vertel die Australiërs gebruik ’n stelsel met ’n dubbelkordon, 20 cm uitmekaar. “As dit oor opbrengs gaan, is dit waarskynlik ’n geskikte stelsel, maar dit is aanvanklik arbeidsintensief met hoër kostes. Die Era-stelsel is goedkoper en minder ingewikkeld om op te lei.”

 

Geen-snoei-stelsels – wat suksesvol in Australië is – word in Suid-Afrika grootliks afgemaak en dis juis daardie ekstra draad wat die groot verskil maak.

 

Hannes se eerste Era-blok is nou al 18 jaar oud en lewer steeds groot oeste. Die Jongwynskou-trofee bewys hierdie Sauvignon Blanc se kwaliteit is ook nie te versmaai nie. “Baie mense wonder of die blokke wat meganies geboer word, oud kan word en steeds dra. As hierdie blok enigsins ’n aanduiding gee, is dit sonder twyfel die geval,” sê Hannes.

 

Gaan groot

Daar kom hoegenaamd nie ’n snoeiskêr in Hannes se gemeganiseerde blokke nie. Hierdie blokke word ten volle meganies bestuur, van snoei, tip- en topwerk en onkruidbeheer tot oes. Maar dit vereis dat jy pynlik netjies te werk gaan.

 

“Al word die blok meganies gesnoei, moet hy jaar na jaar op presies dieselfde plek gesnoei word,” waarsku Hannes. “Dit beteken ook hierdie blokke moet op gelyk grond gevestig word. Dis nie ’n stelsel wat slordig kan raak nie – dit sal jou baie vinnig inhaal!”

 

Betroubare, netjiese en veral geduldige werkers is noodsaaklik vir hierdie stelsels. Hannes vertel hy het in 18 jaar nog niemand afgedank nie en meganisasie gee werkers die geleentheid om waardevolle vaardighede aan te leer. “Een werker hanteer 20 hektaar en hierdie verantwoordelikheid raak hul trots,” sê hy.

 

Wingerde wat van konvensionele heiningstelsels omgeskakel word, is ook nie ideaal nie. “Dit moet gevestig word vir gemeganiseerde produksie, anders sukkel die wingerd om aan te pas,” sê Hannes. Water en noukeurige besproeiingspraktyke is van kernbelang om groei te bestuur, maar gemeganiseerde wingerde kan ook suksesvol op swakker gronde gevestig word.

 

Hannes skiet geensins konvensionele wingerde af nie en beklemtoon gemeganiseerde stelsels werk nie vir almal nie en kan beslis nie oral geïmplementeer word nie. “Ek het self nog konvensionele blokke, maar kan nou in die geheel met minder insette beter boer,” sê hy.

 

Soos gepubliseer in die Mei 2016 uitgawe van WynLand tydskrif.

 

Go Back