News

Die bedryfsliggaam Vinpro nooi alle wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede om saam te kuier by die Nampo Kaap-landbouskou van 4 tot 6 September 2019 by Bredasdorp Park in die Overberg.

Meer as 16 000 besoekers het verlede jaar die eerste Nampo Kaap bygewoon, wat deur Graan SA aangebied word. Deur die 480 uitstallers, ʼn boereplankompetisie, demonstrasies en programme bied die ekspo ʼn uitsonderlike netwerkgeleentheid vir die landbousektor om boerderywenke, nuwe idees en verbeterde boerderymetodes met mekaar te deel.

Vinpro neem vanjaar vir die eerste keer aan dié skou deel, met ʼn uitstalruimte en deelname aan ʼn Nasie in Gesprek-paneelbespreking wat hom spesifiek op die wynbedryf toespits.

Skougangers kan by Vinpro se uitstalruimte (standplaas 182 in die BKB-saal) kom kuier om meer oor die Vinpro Groep se dienste en produkte uit te vind. Gesels met ʼn Vinpro-wingerdkundige of GIS-spesialis oor oplossings vir jou wingerd, verkry aanlyn toegang tot die nuwe Wine Tourism Toolkit, sien praktiese voorstellings van hoe kelders hul data kan bestuur deur WineMS-sagteware en ontvang inligting oor die hoë gehalte plantmateriaal van Vititec. Skerp ook jou wynkennis op deur ʼn paar WynLand-tydskrifte deur te blaai of ʼn SA Wine Industry Directory aan te skaf.

Die wynbedryf Nasie in Gesprek-paneelbespreking word 6 September van 10:30 tot 12:00 by die Santam-ouditorium vir geselekteerde gaste aangebied, maar word ook later op KykNET uitgesaai. “Die paneelbespreking met die tema Talking Wine Business word deur Theo Voster gelei en sal fokus op die uitdagings, geleenthede en innovasie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Daar sal ook spesifiek gefokus word op die Suid-Kaap streek,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.

Volgens Vinpro-voorsitter Anton Smuts is dit vir Vinpro belangrik om vanjaar by Nampo Kaap as breëbasis netwerkgeleentheid in te skakel. “Vinpro is daarop ingestel om saam met ander landbou-entiteite te werk en kwessies aan te spreek wat waarde tot die wynbedryf en breër landbou kan toevoeg om dit sterker en meer volhoubaar te maak.”

Toegangskaartjies is beskikbaar by TicketPro teen R60 aanlyn of teen R70 by die hekke. Die toegangsgeld vir skoolkinders is R20 aanlyn en by die hekke. Nampo Kaap sal daagliks van 08:00 tot 17:00 oop wees.

Kry die nuutste inligting en program by www.nampo.co.za, of volg @NampoCapeKaap of #NampoKaap op sosiale media.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back