Ernst Botha en sy seun Flip Botha van die plaas Kruispad buite Robertson spog met ʼn Shiraz-wingerdblok wat as die wenner van die jaarlikse Winetech Vinpro Wingerdblokkompetisie vir dié streek aangewys is.
Wyndruifprodusente in die streek is vanjaar aangemoedig om hul beste blokke onder die tema “Anything goes” in te skryf. Hierdie tema het almal die geleentheid gegee om deel te wees van die kompetisie ongeag snoeistelsels of prieelstelsels. “Die beoordeling van die ses uiteenlopende inskrywings was uitdagend, maar ons het spesifiek noukeurig na winsgewendheid en wyndoelwitte gekyk,” vertel Hennie Visser, Vinpro-wingerdboukundige vir die Robertson-streek.
Pieter Fouché van Graham Beck was in die tweede plek en Peter de Wet van Excelsior-landgoed het in die derde plek geëindig.
Die wenblok van Ernst en Flip is ʼn Shiraz-kloon SH22F wat op Richter 110 geënt is, en is al tien jaar oud. Hierdie wingerd is voorheen op ʼn vertikale lootposisioneringstelsel (VSP) opgelei, en Ernst het dit drie jaar gelede na ʼn Smart Dyson-stelsel verander.
Ernst en sy span se lowerbestuur het uitgestaan, veral hoe hulle dit aangepas het om die Smart Dyson te laat werk. Hierdie verandering aan die blok het ook daarna toe gelei dat die snoei- en bemestingspraktyke aangepas moes word om die groeikrag te verbeter.
Die veranderinge aan die blok het produksie met 23% verhoog en die span probeer om so veel as moontlik van organiese materiaal op die plaas gebruik te maak.
“Die wenblok is besonders netjies en Ernst en Flip maak gebruik van wetenskaplike besproeiingstelsels en -moniteringstegnologie soos vogmeters en Fruitlook. Hul besproeiingspraktyke is voldoende vir die aantal druiwe en die grootte van die lower,” sê Hennie.
Die Winetech Vinpro Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.
-Einde-
Uitgereik deur: Vinpro
Medianavrae: Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0463
E-pos: wanda@wineland.co.za