News

Die plaas Klipvlei is verlede week as die wenner van die 2016 VinPro/Winetech Wingerdblokkompetisie in die Swartland/Paarl-streek aangewys. 

“Die tema vanjaar was Chenin Blanc-blokke wat vir die vars en vrugtige bottelwynsegment voorberei is. Hierdie is ’n uitdagende kategorie, aangesien beide goeie produksie en kwaliteit behaal moet word om volhoubaar te wees,” vertel Hanno van Schalkwyk, VinPro-wingerdboukundige vir dié streek.

Die standaard van al die inskrywings was baie hoog en die Geldenhuys-broers van Klipvlei was – kortkop voor die naaswenners J de Villiers van Cedar-plaas en Van der Byl Brink van Panorama-wingerdboerdery.

“Die deelnemers het deur innovasie, geskoei op wetenskaplike beginsels, gedemonstreer dat Chenin Blanc suksesvol vir dié doelwit verbou kan word,” sê Hanno.

Daar is byvoorbeeld gebruik gemaak van verskillende prieelstelsels soos die Smart-Dyson-, vryloot- en heiningstelsels na gelang van omstandighede. Korttermynpraktyke soos snoei, suier en die top van lote is ook aangepas na gelang van die uiteindelike wyndoelwit. Wetenskaplike beginsels is nie nagelaat nie, en besproeiing en bemesting word volgens ontledings gedoen en aanpassings gemaak volgens goeie oordeel om winsgewendheid te verhoog. 

Die VinPro/Winetech wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om beste wyndruifverbouingspraktyke te identifiseer, vier, en met die bedryf te deel.

NAVRAE: Lee-Anne Davidson, tel 021 276 0460, e-pos leeanne@vinpro.co.za. 

,345

Go Back