News

Jandré Human, Vinpro-direkteur vir die Klein Karoo.

Jandré Human, bestuurder en wynmaker by Suid-Kaap Wingerde, is wyndruifprodusente in die Klein Karoo se nuwe stem op die Vinpro-direksie.

Sy verkiesing tot Vinpro se direksie is tydens die wynbedryfliggaam se virtuele Algemene Jaarvergadering op 11 November 2020 bekragtig. Hy volg Niël Joubert van die plaas Warmwater op, wat na sewe jaar op die Vinpro-direksie op rotasiebasis herverkiesbaar was, maar homself nie weer herkiesbaar gestel het as direkteur vir die streek nie.

Jandré is sedert 2013 aan die stuur van Suid-Kaap Wingerde, en was voor dit onder andere verbonde aan Overhex – waartydens hy namens die Worcester-streek op SAWIS se tegniese komitee gedien het – asook Brandvlei en Windmeul kelders.

“Jandré is ʼn aanwins vir die Vinpro-direksie, met goeie perspektief oor die operasionele kant van wyndruifverbouing, produksie en bemarking van die markklaar produk. Ons sien daarna uit om saam met hom te werk om die Suid-Afrikaanse wynbedryf te help herbou,” sê Vinpro-voorsitter Anton Smuts.

Totsiens, Niël

Tydens ʼn afskeidsgeselligheid vir Niël Joubert, het Anton hom bedank vir sy waardevolle bydrae tot die Vinpro-direksie en wynbedryf oor die afgelope sewe jaar.

Voormalige Vinpro-direkteur vir die Klein Karoo, Niël Joubert (links), saam met Vinpro-voorsitter Anton Smuts (regs).

“Niël het ʼn gawe om sy sterk en weldeurdagte menings op ʼn stil, maar ferm manier oor te dra, en is veral passievol oor innovasie in die wynbedryf. Hy bedien die breër landbougemeenskap op ʼn merkwaardige en toegewyde manier, onder andere deur sy betrokkenheid by Agri SA, Agri Wes-Kaap, asook verskeie beleidskomitees en nasionale en plaaslike forums,” sê Anton. Hy sal voortgaan om Vinpro en die wynbedryf by Agri SA te verteenwoordig, en bly aan as voorsitter op Vinpro-filiaal FarmMS se direksie.

Vinpro verteenwoordig nagenoeg 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede. Die organisasie voorsien strategiese leiding, bied gespesialiseerde dienste en beywer hom vir die ontwikkeling van mense.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back