News

Chenin Blanc-blomtros in afwagting op blomtyd in die Breedekloof.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf maak hul reg vir wat moontlik die kleinste oes in meer as ʼn dekade kan wees.

Volgens ʼn opname deur die bedryfsliggaam Sawis (SA Wynbedryf-Inligting & -Stelsels) het kelders en wingerdkundiges in die laaste week van November beraam dat die 2018-wyndruifoes heelwat kleiner gaan wees as in 2017 – en dat hierdie selfs die kleinste oes sedert 2005 mag wees.

Droogte, ʼn krimpende wingerdstand en rypskade word as die drie vernaamste oorsake van die kleiner oes voorgehou.

Volgens Francois Viljoen, VinPro-konsultasiediensbestuurder, speel die voortslepende droogte wat die Wes-Kaap reeds vir die derde agtereenvolgende seisoen ondervind ʼn groot rol in die oesgrootte. “Die meeste van die bedryf se groot besproeiingsdamme is op hierdie stadium tussen 30% en 40% vol. Dit beteken dat wyndruifprodusente se watervoorrade met tussen 40% en 60% gesny is en dus nie aan die wingerde se volle waterbehoeftes kan voldoen nie,” sê hy.

Veral in die Olifantsrivier-wynstreek kry produsente minder as 25% van die normale waterkwota uit die Clanwilliamdam en ʼn groot oesafname word in hierdie streek verwag. Dit is slegs die Oranjerivier-streek wat tans geen watertekorte ondervind nie.

Die Suid-Afrikaanse wingerdstand krimp ook jaarliks sedert 2007. Die bedryf kap meer wingerde uit as wat aangeplant word; ʼn tendens wat die afgelope twee jaar versnel het. In 2016 beloop die totale wingerdstand 95 775 ha teenoor 100 568 ha in 2011 – ʼn 5% daling oor die afgelope vyf jaar.

Laastens het wydverspreide rypskade aan die einde van September en begin Oktober voorgekom, wat tot groot oesverliese in sekere gebiede in die Oranjerivier-, Breedekloof-, Worcester- en Robertson-wynstreke aanleiding gegee het.

“Ondanks die feit dat ʼn heelwat kleiner wyndruifoes in 2018 verwag word, vertoon die wingerde nog op hierdie stadium baie goed danksy gereelde reënbuie in Oktober en November, tesame met koeler weerstoestande tot einde November,” sê Viljoen. Wingerde groei oor die algemeen goed en geen noemenswaardige swamsiektes of plae het tot dusver voorgekom nie.

“Die lae damvlakke en onvoldoende watervoorrade sal waarskynlik die grootste bepaler van ʼn kleiner 2018-oes wees. Goeie, gereelde reënbuie in Desember en Januarie kan natuurlik groot verligting bring en die vooruitsig nog verander,” sê Viljoen.

“Die kleiner wyndruifoes gaan tot ʼn groot afname in seisoenale werksgeleenthede lei, wat ʼn wesenlike effek op die sosio-ekonomiese welvaart van wynbedryfgemeenskappe sal hê. Die Olifantsrivierstreek gaan waarskynlik die ergste hierdeur geraak word,” sê VinPro besturende direkteur, Rico Basson.

Suid-Afrika is egter nie die enigste wynproduserende land wat ʼn kleiner oes gaan realiseer nie. Frankryk, Italië, Spanje en Kalifornië se opbrengste het ook onder natuurverskynsels deurgeloop, wat tesame met ʼn groter vraag, tot wêreldwye tekorte in sekere kategorieë lei. “Hoewel wynrakke nie skielik leeg gaan wees nie, bied die relatiewe wyntekort ʼn gulde geleentheid vir die Suid-Afrikaanse bedryf om teen hoër pryspunte mee te ding,” sê Basson.

Suid-Afrika is die negende grootste wyndruifprodusent ter wêreld en dra 4% tot globale produksie by.  Die bedryf voer 440 miljoen liter wyn uit en verkoop 400 miljoen liter plaaslik.

Go Back