News

FOTO 1. Bekalking deur presisiestrooier voor grondvoorbereiding.

Vir optimale groei en opbrengs, is korrekte grond-pH van kardinale belang.

Grondsuurheid is ’n opbrengsbeperkende faktor wat maklik plaasvind indien bemesting nie reg toegedien word nie. Twee hoofbeperkende faktore van versuurde grond op die plant se produktiwiteit is voedingstekorte en metaaltoksisiteite, soos oplosbare aluminium en mangaan. Verder skep fosfaatbyvoegings in versuurde grond ook sekere probleme deurdat dit sterk vaslegging van aluminium en yster tot gevolg het. Die toksiese effek van Al3+ op plantwortels is nie nuus nie en tipiese simptome van aluminiumbeskadiging is die afstomping van die wortelpunte, wat die verlaging van nutriënte en wateropname tot gevolg het.

Chemiese regstellings, soos die uitstrooi van die regte hoeveelheid en soort kalk vir die regstel van die grond-pH, asook die fosforstatus, gaan gepaard met grondbewerking. Dit is belangrik om die grond-pH reg te stel ten einde wortelontwikkeling van wingerd/onderstokke optimaal te laat geskied. Grond bekalk tot ’n pH van ses sal in die meeste gevalle die wortelmassas van onderstokke betekenisvol verhoog.

Voordat daar beplan word om wingerd te vestig, moet daar eers breedwerpige chemiese regstellings gedoen word met behulp van ’n spesifieke kalkbron, fosfaat, kalium en selfs gips tot op die korrekte diepte. Die regstellings word deur die tipe grond en effektiewe worteldiepte bepaal (Foto 1).

FOTO 2. Goeie wortelontwikkeling wat met die regte bekalking en fosfaatregstelling voor grondvoorbereiding verkry word teenoor verkeerde grondvoorbereiding wat nie die regte diepte bereik het nie, met gevolglik swakker wortelverspreiding en wortelbeperkende lae.

Kalk het ’n relatiewe lae oplosbaarheid en benodig dus meganiese inwerking van die ameliorante met die regte implement, sodat dit na dieper horisonte vermeng kan word. Onthou dat lae grond-pH net deur ’n karbonaat reggestel kan word en dat gips geen pH-veranderinge laat gebeur nie. Die benattingsarea van ’n drupper is gewoonlik in stroke langs/op die rye wingerdstamme af. Wanneer grondchemie nie tydens grondvoorbereiding reggestel word nie, is die wortels geneig om net in die benattingsarea te groei en in sommige gevalle het die chemiese beperking ’n permanente wortelbeperking tot gevolg (Foto 2 en 3). Alhoewel ’n drupper ’n uitstekende hulpmiddel is om die grondstatus in balans te hou, kan tradisionele bekalking nie effektief vervang word deur die toediening van vloeibare kalk deur die drupper nie.

Om grondsuurheid onder die drupper te bestuur, is selfs in die nuwe era van tegnologie steeds beperk, aangesien die grond onder die drupper nie bewerk word nie en die kalk nie werklik in die grondhorisonte afbeweeg nie. ’n Konstante byvoeging van die basiese katione is noodsaaklik om die optimale balans in die grond te behou. Kalsiumbevattende kunsmisstowwe is dus ’n beter opsie om die versurende effek van ammonium-misstowwe teen te werk.

Bemesting deur druppers is vir ekonomiese- en waterbesparingsredes die produsent se mees voordelige opsie, omdat nutriënttekort maklik en vinnig aangespreek kan word en wateroplosbare kunsmis deur die groeiseisoen toegedien kan word (Foto 4).

FOTO 3. Duidelike oorbekalking sigbaar as gevolg van verkeerde grondvoorbereidingstegnieke van ameliorante. Na selfs 10 jaar is die kalk nog steeds sigbaar.

Ammoniumbevattende misstowwe het egter ’n nadelige effek weens grondsuurheid op veral sandgronde. Veral as nitraat onvoldoende deur die plant opgeneem word, kan grond versuur as gevolg van drupbesproeiing in die benatte volume grond wat ’n beperking plaas op opbrengslimiete as dit verkeerd bestuur word.

Vloeibare gips onder sekere omstandighede en toegedien op sekere grondsoorte kan wel met sukses gebruik word, omdat gips meer oplosbaar as kalk is en die oortollige soute (natrium en magnesium) uit die wortelsones geneem word, en die kalsium dan in die dieper grondhorisonte kan inbeweeg. Gips is egter nie altyd die regte antwoord nie, en moet noukeurig saam met ’n grondkundige oorweeg word.

Gips los vinniger as kalk op en het net 25 mm/ha water nodig om op te los. Dit word as ’n plantvoeding (kalsium en swawel) toegedien of om oortollige soute, soos natrium en magnesium, uit die bogrond te verwyder. Met sandgronde is die risiko groter dat magnesiumvlakke sal daal nadat die gips opgelos het. Op swaarder gronde moet daar eers seker gemaak word dat die grond goeie interne dreinering het voordat gips toegedien word. Grondmonsters moet gereeld geneem word om die grondstatus te kontroleer, omdat elke distrik, plaas en grondsoort uniek is en verskillend reageer.

FOTO 4. Druppers wat algemeen in die Wes-Kaap gebruik word.

Gesels met ’n grondkundige om te besluit of gips, kalsitiese kalk of dolomitiese kalk vir jou spesifieke blokke toegedien moet word. Onthou ook dat kalsium en magnesium in kalk nie net die pH verbeter nie, maar ook die toeganklikheid van ander elemente, soos kalium, verbeter.

Soos gepubliseer in die Junie 2017 uitgawe van WynLand tydskrif.

Go Back