News

Nadat dit vandag vir ʼn vol dag voorgelê is, het die Wes-Kaapse Hooggeregshof uitspraak voorbehou in Vinpro se dringende tussentydse interdikaansoek wat die premier van die Wes-Kaap in staat sal stel om af te wyk van die nasionale verbod om verkope van drankprodukte in die provinsie vir binne- en buiteverbruik toe te laat.

Die regspanne wat namens Vinpro en die Suid-Afrikaanse regering optree, het vandag hul argumente in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aan die waarnemende regter, regter Noluthando Nziweni, uitgespreek waarna sy uitspraak in die saak voorbehou het.

“Ons is hoopvol op ʼn positiewe uitkoms en wag gretig op die uitspraak oor hierdie belangrike beginsel wat besluitneming rondom ʼn toekomstige verbod op wynverkope sal bepaal,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is op die rand van ʼn afgrond nadat sy inkomste die afgelope 16 maande verskeie kere afgesny is. Vir elke week wat verloop verhoog die moontlikheid dat nóg meer wynverwante ondernemings hul deure sluit en duisende werknemers sukkel om hul gesinne te voed.”

Pogings van die wynbedryf om oor die afgelope 16 maande aktief met die nasionale regering in gesprek te tree, het onvermoeid voortgegaan maar ʼn volgehoue gebrek aan konsultasie en bystand van die regering het daartoe gelei dat Vinpro met geen ander keuse gelaat is as om regsaksie as laaste uitweg te gebruik om handel te heropen en sodoende verdere werksverliese en die sluit van nog besighede te voorkom nie. Die bedryf kon reeds vir 23 weke sedert die eerste alkoholverbod nie handel dryf nie.

“Terwyl ons op die uitspraak wag, bly ons ook daartoe verbind om ons hoof hofaansoek wat van 23 tot 26 Augustus in die Wes-Kaapse Hooggeregshof voor ʼn vol bank regters aangehoor word, deur te sien,” sê Basson.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
Epos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back