News

Wilhelm Joubert en Dawid Kok van die plaas Hartenberg, wenner van Vinpro en Winetech se wingerdblokevaluering in die Stellenbosch-streek.

Wilhelm Joubert en sy span by Hartenberg verbou die beste blok Merlot in die Stellenbosch-streek, volgens Vinpro en Winetech se jaarlikse Wingerdblokkompetisie.

“Daar word baie mooi Merlot-wyne in Stellenbosch verbou, en deur hierdie kultivar as tema te kies, wou ons graag die beste praktyke in die top blokke aan produsente uitwys,” vertel Conrad Schutte, Vinpro-wingerdkonsultant vir die Stellenbosch-streek.

Johan en Tjuks Roos van Rust en Vrede was in die tweede plek en Kallie Fernhout van Delaire Graff in die derde plek.

“Wilhelm en sy span het uitstekende lowerbestuur in die wenblok toegepas. Die draers was ideaal geposisioneer en die lote goed vertikaal ingesteek. Gronde is vooraf presies gekarteer en voorberei volgens die beplande kultivar, wat ʼn uitstekende basis vir wortelverspreiding daargestel het,” sê Conrad.

ʼn Boeredag is onlangs by die wenblok gehou, waartydens kundiges die volgende wenke oorgedra het: Pas die draerlengte volgens die lootdikte aan tydens snoei om goeie lootdikte gedurende die groeiseisioen te verseker; staalpale is ʼn goeie opsie indien ʼn produsent houtpale wou verminder; en dit is prakties moontlik om gronde wel op presiese ontledings en aanbevelings voor te berei. “Indien produsente poog om hul druiwe vir hoë prysklas wyne aan te wend, moet hier geen kortpaaie geneem word nie,” sê Conrad.

Die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:            VinPro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

VinPro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back