News

Die wynbedryfliggaam Vinpro stem nie met sekere beginsels vervat in die Presidensiële Raadgewende Paneel oor Grondhervorming se verslag ooreen nie, maar ondersteun die proses waardeur die wynbedryf saam met ander belanghebbers oor die volgende agt maande insette daaroor kan gee.

Die verslag is op 28 Julie 2019 deur die paneel uitgereik en behandel onder andere grondbesit in kommunale gebiede, eiendomsveiligheid op plase, onteiening, landbouhervorming, die vraag na grond en keuse van begunstigdes.

“Vinpro en ons bedryfsvennoot Salba (SA Liquor Brand Owners Association), is ten gunste van grondhervorming, mits dit tot die volhoubaarheid van alle partye in die landbousektor bydra,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Onteiening sonder vergoeding is teenstrydig hiermee, en ons glo ook nie dat die wysiging van Artikel 25, oftewel die eiendomsklousule van die Grondwet, noodsaaklik is om grondhervorming te bespoedig nie.”

ʼn Verdere ad hoc komitee bestaande uit tien lede met stemreg en 14 sonder stemreg intussen in die lewe geroep om na verdere konsultasie teen 31 Maart 2020 aan die Nasionale Byeenkoms verslag te doen ten opsigte van die wysiging van Artikel 25.

“Vinpro en Salba het van meet af aan deelgeneem aan die konsultasieprosesse rondom grondhervorming en sal in die volgende agt maande voortgaan om ons standpunt namens die wynbedryf verder te beklemtoon,” sê Basson.

As lid van georganiseerde landbou werk Vinpro ook nou met organisasies soos Agbiz, Agri SA en Agri Wes-Kaap saam rondom die kwessie van grondhervorming.

“Die wynbedryf bly verbind tot transformasie en sal voortgaan om nuwe toetreders by te staan deur werkbare vennootskapsmodelle te ontwikkel, gemengde finansieringsmodelle vir hierdie besighede te fasiliteer, marktoegang te help vestig en te verseker dat die nodige stelsels in plek is om tegniese, finansiële en ander ondersteuning aan grondbegunstigdes te bied,” sê Basson.

Die wynbedryf is die tweede grootste werkskeppende landboubedryf in die Suid-Afrikaanse ekonomie, met ʼn indiensnemingsvermenigvuldiger-effek van bykans 8. Die bedryf voorsien werk aan nagenoeg 300 000 persone regdeur die waardeketting, waarvan 30 000 op plaasvlak. Die wynbedryf is ook sterk verwant aan toerisme, een van die min segmente in die Suid-Afrikaanse ekonomie wat tans groei toon.

Uitgereik deur: Vinpro

Medianavrae:
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back