News

Wyndruifprodusente het in September en Oktober die geleentheid gehad die prestasies van dekgewasproewe op verskillende grondtipes eerstehands te ervaar danksy die Gen-Z Wingerdprojek, wat deur Vinpro aangebied word. Vanjaar het die dekgewasdemonstrasies besoeke aan die Swartland-, Stellenbosch- en Breedekloofstreke ingesluit.

“Die Gen-Z dekgewasdemonstrasies skep ʼn forum vir gesprekke en oordrag van kennis tussen produsente, wingerdboukundiges en bestuurders,” sê Emma Carkeek, Gen-Z wingerdboukundige. “Dit sluit die geskiktheid van dekgewasspesies vir spesifieke grondtipes, effektiewe onderdrukking van onkruid en die effek van dekgewasse op grondgesondheid in.”

Ivan Jansen van Rensburg van Barenbrug, wat saad vir die projek geborg het, sê met hierdie projek kan hulle produsente wys watter dekgewasse die beste vaar in die verskillende streke en grondtipes. “Dekgewasse kan verskeie funksies verrig, waarvan die verbetering van grondgesondheid baie belangrik is. Dit word al hoe duideliker dat die antwoord nie altyd by ʼn produk uit ʼn bottel lê nie, maar dikwels by die natuur self.”

Hy sê elke produsent se doelwitte, uitdagings en toestande moet in ag geneem word tydens dekgewasseleksie om die beste resultate te kry.

By Heldersig het die wit mosterd byvoorbeeld uitstekende groei getoon en vir goeie onkruidonderdrukking gesorg. Voerrog en bitter lupiene het goeie resultate op die verweerde growwe granietgronde by Olifantskop gelewer.

Op Oakleaf-gronde by Kanonkop het die voerrog en wit mosterd-mengsel asook die toepassing van die medics veral goeie sukses behaal. Op Klipdrift in Rawsonville se sanderige leemgronde het die voerrog en saia-hawer uitmuntende groei getoon.

“Die proewe dui aan dat dekgewasse plek-spesifiek is, so ons raai produsente aan om meer as een proef in hul wingerde toe te pas om te bepaal watter kombinasies die beste op hulle plaas sal vaar, en dit af te wissel om diversiteit te verseker,” sê Emma.

Daar is tans ’n groter klem op dekgewasse en die voordele wat dit inhou. “Alhoewel ons nou meer weet as vantevore, is meer navorsing nodig oor die uitwerking van spesies en kombinasies op mikrobiese grondbevolkings, voedingstowwe en waterverbruik,” sê sy.

Vir meer inligting oor die Gen-Z Wingerdprojek, kontak Emma Carkeek by tel 021 276 3212, e-pos emma@vinpro.co.za.

 

Wyndruifprodusente wat die dekgewasproewe by Cavalli Wynlandgoed bygewoon het.

Ivan Jansen van Rensburg van Barenbrug deel inligting met die produsente.

Twee produsente deel inligting met mekaar.

Produsente luister na Ivan.

Go Back