News

Die tyd vir praat oor klimaatverandering is lankal verby. Wat ons planeet nou nodig het, is daadwerklike aksie – voordat dit te laat is.

Sedert die Kyoto-protokol in 1997 die woord “klimaatverandering” op die wêreldverhoog geplaas het en die dokkie, An Inconvenient Truth, dit in 2006 in ’n meer verteerbare vorm aan ons verduidelik het, worstel die internasionale gemeenskap uit beide ’n politieke en wetenskaplike oogpunt met die oorsake en gevolge van hierdie verreikende verskynsel.

Tot die groot kommer (en teleurstelling) van die wetenskaplike gemeenskap, is daar steeds ’n wye, ongegronde teenkanting teen die feit dat klimaatverandering eerstens bestaan, tweedens dat dit teen ’n onrusbarende tempo versnel en derdens dat hierdie versnelling hoofsaaklik weens menslike toedoen is.

Sulke wetenskapontkenners se invloed krimp wel daagliks soos die onweerlegbare bewyse van klimaatverandering se bestaan en uitwerking toeneem.

Wat is klimaatverandering?

In breë trekke verwys dit na ’n noemenswaardige, langtermynverandering in klimaatpatrone, op beide globale en streeksvlak. Dit is nuttig om te onderskei tussen die term “weer”, wat verwys na die toestand van die atmosfeer op ’n gegewe oomblik, en “klimaat”, wat verwys na die gemiddelde toestand van weer oor ’n langer tydperk, gewoonlik minstens 30 jaar.

Die herkenbaarste woord wat ons met klimaatverandering assosieer is aardverwarming, wat spesifiek verwys na ’n verhoging in die oppervlaktemperatuur van die planeet.

Hierdie verwarming word grotendeels aan mensgedrewe oorsake toegeskryf, vernaamlik die kweekhuiseffek. Dit word veroorsaak deur ’n beduidende verhoging in die vlakke van kweekhuisgasse soos koolstofdioksied, metaangas en distikstofmonoksied na onder andere die verbranding van fossielbrandstowwe op ’n massiewe skaal.

Aardverwarming blyk die konkreetste en meetbaarste legkaartstuk in die groter prentjie van klimaatverandering te wees. Data van duisende meteorologiese stasies, boeie en skepe regoor die wêreld word verhaal en gekorreleer om die gemiddelde oppervlaktemperature te bepaal. Daaruit blyk dit dat 1983 tot 2013 die warmste 30 jaar lange tydperk in die laaste 1 400 jaar was.

Die omvang van aardverwarming kan meer volledig begryp word in die konteks van die domino-effek wat dit veroorsaak. Temperatuur is nie die enigste faktor wat klimaat bepaal nie, maar die versnelde verhoging in temperatuur soos onlangs waargeneem beïnvloed ongetwyfeld ander klimaatfaktore soos wind, humiditeit en reënval op ’n drastiese, negatiewe en langdurige wyse.

Afrika is klimaat-kwesbaar

Die Interregeringspaneel oor Klimaatverandering (Intergovernmental Panel on Climate Change of IPCC) het sedert 1990 vyf assesseringsverslae vrygestel. Die derde verslag het in 2001 verskyn en het voorspel dat klimaatverandering Afrika uitermate hard sal tref. Die laaste verslag het in 2014 verskyn en het hierdie voorspelling onomwonde bevestig.

Oorsake van hierdie kwesbaarheid ten opsigte van die voorspelde klimaatverandering oor die volgende eeu is veelvuldig. Geografiese eienskappe, huidige landboupraktyke en oorheersende ekonomiese toestande is maar net drie van die faktore wat Afrika se vermoë om ’n drastiese verandering in klimaat te hanteer gaan beïnvloed.

Die ooglopendste probleem is Afrika se geografie. Die vasteland word min of meer deur die ewenaar in twee verdeel, met die meerderheid van sy oppervlak onder woestyn, halfwoestyn en droë streke.

’n Toename in temperatuur sal mettertyd ’n nadelige effek op die jaarlikse reënval hê. Dit sal lei tot ’n uitbreiding van droë streke en ’n eindelike afname in bewerkbare, vrugbare dele. Daar word voorspel dat Afrika teen 2080 ’n 5-8% toename in dor en halfdor streke sal sien.

Beide kommersiële sowel as bestaansboerdery sal erg geraak word deur klimaatverandering weens die verlies van groot dele grond wat tans onder stapelgewasse verbou word. ’n Verkorte groeiseisoen sal ook ’n onmiskenbare nadelige effek op produksie hê. Selfs die aard van die gewasse wat geplant word, is problematies. Mielies word byvoorbeeld op grootskaal verbou, tog is die plant uiters sensitief vir droogte en hoë temperature.

Laastens is die gebrek aan ekonomiese welvarendheid moontlik die kommerwekkendste aspek wat tot ons vatbaarheid vir klimaatveranderig bydra. Ontwikkelde lande het die finansiële middele om gebeurlikheidsplanne saam te stel en implementeer. Hulle beskik oor die nodige hulpbronne en infrastruktuur om ’n legio voorkomende maatreëls in plek te stel en die onafwendbare gevolge van droogtes af te weer of te verminder. Daarenteen het die meeste ontwikkelende lande ’n gebrek aan soortgelyke hulpbronne om die bedreigings wat droogte inhou te hanteer.

Afrika staar dus die sekerheid van verhoogde armoede in die gesig indien daar nie drastiese stappe gedoen word om die voorspelde gevolge te bestry en die nodige voorsorgmaatreëls in plek te stel nie.

’n Perspektief op klimaatverandering en wynproduksie

Vitis vinifera (beide tafel- en wyndruiwe) is een van die grootste vrugtegewasse in die wêreld, maar ook een wat geneig is om meer sensitief te wees vir verandering in veral temperatuur en reënval.

Selfs ’n geringe verandering in weertoestande tydens bot, deurslaan en rypwording kan die kwaliteit van ’n oesjaar affekteer. Laer temperature kan hoë suurvlakke, laer suiker en halfrypheid in die wyn veroorsaak. Hoër temperature lei tot die omgekeerde – hoë suikervlakke, hoë alkohol en oorryp geure. Daarmee saam is daar ook ’n verlaging in antosianiene, wat die kleur van rooiwyn affekteer, en appelsuur, wat appelmelksuurgisting en mondgevoel beïnvloed.

In die langer termyn sal klimaatverandering die landskap van wynstreke geheel en al verander. Koeler klimate sal meer gematigde temperature ervaar, terwyl gematigde streke warmer en droër sal word tot op die punt waar dit nie meer optimaal vir wyndruifverbouing is nie. Die produksie van kenmerkende kultivars in spesifieke streke sal eerste geaffekteer word. Kultivars soos Pinot Noir sal lewensvatbaarheid verloor, selfs in ikoniese streke soos Boergondië, wat die plant van meer hittebestande kultivars noodsaaklik sal maak. Kusstreke sal geaffekteer word deur stygende seevlakke wat tot volkome verlies van wingerdboustreke sal lei.

Afrika – Suid-Afrika se wynstreke ingesluit – sal nie hierdie beduidende veranderinge ontsnap nie. Inteendeel, ons ligging en heersende weertoestande dui aan dat daar ernstige omwentelinge op pad is. Daar is wel oplossings beskikbaar om die effekte te versag. Dit sluit in veranderinge in praktyke rondom lowerbestuur, die verbeterde gebruik van dekgewasse om gronderosie te voorkom en verkorte besproeiiningsmetodes om doeltreffende watergebruik te verbeter.

Dat die situasie ernstig is, is voor die hand liggend. Onrusbarend ernstig, maar nie wanhopig nie. ’n Omvattende aksieplan om ons koolstofvoetspoor te verminder – in die wynlande, die res van Suid-Afrika en dwarsoor die wêreld – asook strategiese, tydige voorbereiding om die ongunstige effekte te hanteer
is nie ’n onbegonne taak nie.

Soos gepubliseer in die Junie 2017 uitgawe van WynLand tydskrif.

Go Back