News

ʼn Cabernet Sauvignon-blok van Bruno Suter van De Breederivierplaas het vanjaar uitgestaan as Winetech en Vinpro se top wingerdblok in die Worcester/Breedekloof-streek.

“Die streek het hierdie jaar ses inskrywings gehad met ʼn verskeidenheid van blokke wat werklik uitgestaan het,” sê Pierre Snyman, wingerdboukundige in die Worcester/Breedekloof-streek.

Jean du Preez van Excelsior Boerdery in Rawsonville het die tweede plek behaal met sy Sauvignon Blanc-blok, en in derde plek was Jannie du Toit van Swartwalle met ʼn blok Merlot.

Bruno se Cabernet Sauvignon-blok – klone CS338 en CS159 – is in 2010 gevestig. Hy maak gebruik van ʼn drupbesproeiingstelsel, wat ongeveer 2.3 liter per uur lewer. Hierdie tipe stelsel word gebruik omdat die kleigronde in die blok baie dik is en drupbesproeiing reserwes kan help opbou vir die tye wat dit droog en warm is.

Bruno en sy familie word geïnspireer deur plante van alle soorte, en het veral ʼn groot liefde wingerde en wyn. “Die lewe is te kort om swak kwaliteit wyn te geniet,” vertel Bruno.

“Die lowerbestuur in hierdie blok is baie goed en die tip-aksies is betyds uitgevoer,” sê Pierre.

Hierdie spesifieke blok is baie goed gesuier en vertoon egalig, met ʼn goeie balans tussen drag en groeikrag. Die spasiëring van die draers is baie goed, wat die opbou van draers verhoed. Bruno se spuitprogram sluit onder andere suiker (sukrose) in om die plant se energievlakke te verbeter.

Die Winetech Vinpro Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:             Vinpro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

Vinpro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

Go Back