News

Clanwilliamdam (fotokrediet: Hendrik van den Berg)

Die onlangse aankondiging dat die Clanwilliamdam opgegradeer gaan word, is goeie nuus vir Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente in die Olifantsrivierstreek en bied geleentheid vir ’n broodnodige hupstoot in belegging.

Minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti, het onlangs aangekondig die damkapasiteit word met 50% vergroot deur die damwal met 13 m te verhoog. Dit is ook verblydend dat die projek langverwagte konstruksie op waterkanale asook die uitroei van uitheemse plantegroei insluit.

Hierdie opgraderings, wat vroeg in Oktober ’n aanvang neem, sal meer stabiliteit in die voorsiening van water nie net aan huidige gebruikers voorsien nie, maar ook besproeiingswater aan ’n bykomende 5 000 tot 10 000 ha in die streek voorsien, met ʼn bepaalde fokus op ontluikende boerderye en transformasie-inisiatiewe.

Daar is ook vordering gemaak in beplanning vir die uitbreiding van die Brandvleidam in die Breederivierstreek, wat voldoende besproeiingswater vir ’n bykomende 4 500 ha in die streek sal voorsien tot voordeel van verskeie landbouprodukte.

“Die goedkeuring van die uitbreiding en opgradering van die Clanwilliamdam is uitstekende nuus vir die landbousektor, en spesifiek vir wyndruifprodusente in die streek, wat ’n baie moeilike jaar agter die rug het vanweë die droogte,” sê Rico Basson, besturende direkteur van die wynbedryforganisasie Vinpro. “Dit sal definitief beduidende groei en sakeontwikkeling in die mediumtermyn ondersteun.”

Basson sê dit is bemoedigend om die positiewe uitkomste te sien van samewerking tussen die regering, bedryf en arbeid deur forums soos die Wine Industry Value Chain Round Table (WIVCRT) en die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF) se komitees.

Medianavrae:
Vinpro
Wanda Augustyn
Tel: 021 276 0458
E-mail: wanda@wineland.co.za

 

Go Back