News

Wilhelm Steenkamp van die plaas Bet-El by die Cabernet Sauvignon-blok wat as VinPro en Winetech se wenwingerd in die Olifantsrivier aangewys is.

Wilhelm Steenkamp van die plaas Bet-El in die Cabernet Sauvignon-blok wat as VinPro en Winetech se wenwingerd in die Olifantsrivier aangewys is.

Die plaas Bet-El buite Koekenaap se blok Cabernet Sauvignon is as VinPro en Winetech se beste wingerdblok in die Olifantsrivierstreek aangewys.

Dié wynbedryfsorganisasies se wingerdblokevaluering het vanjaar op enige kultivar vir die premium wyndoelwit gefokus.

“Wilhelm Steenkamp, eienaar van Bet-El, se puik besproeiingspraktyke en lowerbestuur het dié blok laat voorloop,” sê Gert Engelbrecht, VinPro se wingerdboukundige konsultant in die Olifantsrivierstreek. Die Cabernet Sauvignon-blok, wat in 2012 aangeplant is, is kloon CS163 op Ramsey geënt en word op ʼn driedraad verskuifbare heiningstelsel opgelei.

Besproeiing is noukeurig bestuur deur middel van kapitansiemeters, asook goeie oordeel ten opsigte van aktiewe lowergroei. Dit het in ruil lowerbestuursaksies soos suier, insteek van lote en posisionering vergemaklik en tot die ideale sonligblootstelling en balans tussen lower en drag aanleiding gegee.

Jan Teubes van Spruitdrift was die naaswenner met ʼn blok Pinotage en Johan Louw, ook van Spruitdrift, was in die derde plek met ʼn blok Wit Muskadel.

Die VinPro/Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om beste wyndruifverbouingspraktyke te identifiseer, vier, en met die bedryf te deel. ʼn Boeredag word in Junie gehou waartydens die praktyke van die wenblok gedemonstreer en ander tegniese inligting oorgedra gaan word.

 

Go Back