News

Die VinPro blokkompetisie slaan ’n nuwe rigting in, met sterker klem op praktiese toepaslikheid en kennisoordrag.

 

VinPro se blokkompetisie het wel sy oorsprong gehad in ’n akademiese geskrif uit die 1970’s – maar deesdae word dit gekenmerk deur klem op die werklikheid en op praktiese toepassing van kundigheid.

 

Deur die jare het hierdie kompetisie die geleentheid aan boere, wingerdkundiges, navorsers en konsultante gebied om van aangesig tot aangesig idees uit te ruil. Maar, sê Francois Viljoen, VinPro se bestuurder van konsultasiedienste, die kompetisie het ’n dekade gelede té veel klem gelê op wingerde wat ge-manicure is, eerder as om realisties te kyk na wingerde wat geld maak.

 

Die vasstelling van temas vir die verskillende streke het egter ’n groot rol gespeel om realistiese, praktiese gevallestudies tot almal se beskikking te stel. “Dit bied die geleentheid om in elke streek om in elke streek hedendaagse uitdagings die hoof te bied – juis die soort inligting wat produsente nodig het,” sê Francois.

 

ERKENNING AAN PRODUSENTE

Die ‘kompetisie’-gedeelte van die blokkompetisie is, volgens Francois, bloot daar om erkenning aan produsente te gee, “met dié dat daar reeds oorgenoeg erkenning aan wynmakers gegee word”. Die klem bly egter op inligtingsoordrag. Die spanne wat die blokke beoordeel, word juis daarom saamgestel om verskillende dissiplines en ouderdomme saam te groepeer.

 

“Deur ’n jong wingerdkundige saam met ’n hardebaard te sit, bied jy aan albei die geleentheid om iets nuuts te leer. Dis hier waar die waarde van persoonlike kontak inkom,” sê hy. Daar is sekere praktiese aspekte wat net eenvoudig beter oorgedra word deur dit in ’n wingerd te sien.

 

“Sien is glo – dit is só eenvoudig! Op boeredae, wanneer die wenblokke van elke streek besoek word, kan jy met jou eie oë sien wat gedoen kan word. Dis hier waar vrae gestel en die praktiese, realistiese aspekte van wingerdbou toegelig word,” verduidelik hy.

 

Die finansiële prestasie van elke blok word al hoe belangriker, maar is baie kompleks om te evalueer, aangesien die inkomste en uitgawes van elke inskrywing dan geoudit behoort te word. “Hierdie aspek word nou egter deel van die beoordeling – juis om te wys dat die kompetisie prakties en ter sake is,” sê Francois.

 

Vanjaar se wenners:

  1. Worcester/Breedekloof: Pierre Carstens
  2. Stellenbosch: Conrad Schutte (VinPro) en Christo Crous (Uva Mira)
  3. Robertson: Hannes en JC Erasmus
  4. Olifantsrivier: Isak de Beer
  5. Paarl: Truter Prins

 

WAT SÊ DIE KONSULTANTE?

Stellenbosch: Uva Mira

Conrad Schutte

TEMA: CABERNET SAUVIGNON-BLOKKE OUER AS VYF JAAR

Hoekom is hierdie spesifieke tema gekies?

Cabernet Sauvignon is een van die skatte van die Stellenboschstreek. Kyk net na die topwyne wat in hierdie streek geproduseer word! Ek hou van ’n tema wat op een kultivar fokus. Dit plaas almal op ’n gelyke grondslag in ’n kompetisie. Dis moeilik om Shiraz met Chardonnay te vergelyk en ek reken daar is min mense wat regtig daardie vaardighede besit.

 

Wat het opgeval tydens die beoordeling van die wenblok?

Aangesien dit ’n buitengewoon droë seisoen in die streek was, het produsente behoorlik bontgestaan met besproeiing. Die paneel het gesê produsente moenie in sulke droë jare bang wees om met diep, langer pulse te besproei nie. Die wenblok het egter uitstekend gevaar in lowerbestuurspraktyke. Lote was pragtig regop geposisioneer. Die drade is met ’n nuwe tegniek aan mekaar vasgemaak, wat daartoe gelei het dat hulle slegs een keer lote moes insteek, hoewel dit ’n redelik winderige gebied is. Die lowerdigtheid is goed bestuur en die wingerd het ’n uitstekende drag-tot-lower-verhouding gehad.

 

Olifantsrivier: De Hoop

TEMA: HOËPRODUKSIECOLOMBAR

Gert Engelbrecht

Hoekom is hierdie bepaalde tema gekies?

Colombar vir grootmaatwyn is gekies omdat dit so ’n groot deel van die gebied se produksie uitmaak. Van die 238 000 ton druiwe wat in die Olifantsrivierstreek gepars word, is omtrent 77 000 ton Colombar. In die wingerde waar hierdie druiwe vandaan kom, sien ons geweldige verskille in verbouingspraktyke en opleistelsels, en inskrywings het ook hierdie verskille weerspieël.

 

Wat het opgeval tydens die beoordeling van die wenblok?

Die wenblok se uitsonderlike kenmerk was dat die langtermynpraktyke puik uitgevoer is. Hierdie praktyke behels veral grondvoorbereiding, keuse van prieelstelsel en kultivar/onderstok-kombinasie. Dit het die grondslag gelê vir ’n blok wat ’n baie goeie ewewig tussen drag en groei toon. Die oophang-lowerstelsel het baie doeltreffend sonligindringing in die loof bewerkstellig en die eindresultaat is ’n blok met hoë produksie en goeie ontledings.

 

Paarl: Olyvenboom

TEMA: SKAARS KULTIVARS VIR PREMIUMWYNBEREIDING.

Hanno van Schalkwyk

Hoekom is hierdie spesifieke tema gekies?

Die tema vanjaar was “skaars kultivars vir premiumwynproduksie”, aangesien baie produsente reeds van die ‘nuwer’ kultivars gevestig het met die oog op versnitte en enkelpremiumwyne. Die beoordeling en produsentedag skep dus ’n forum waarop die geleenthede en slaggate bespreek kan word.

 

Wat het opgeval tydens die beoordeling van die wenblok?

Die wenblok was in ’n ander klas, wat balans tussen groei en drag betref, en die nodige bestuursinsette is ook op tyd gedoen. Die lower was veral effektief om die goeie oes ryp te maak.

 

Breedekloof en Worcester: Deetlefs

TEMA: CHENIN BLANC

Leon Dippenaar

Hoekom is hierdie spesifieke tema gekies?

Chenin Blanc is die mees aangeplante kultivar in die Breedekloof- en Worcestergebiede. Dit is ook ’n belangrike kultivar wat aanwending betref: Van rabat- tot top gehalte niswyne word daarvan gemaak. Daar was ’n duidelike tendens om wyn doelwitspesifiek te produseer. Wingerde wat vir stortmaatwyn bestem is, het meer tonne opgelewer as bottelwynblokke wat op gehalte toegespits is. Die opvallende kenmerk van die wenblok is dat goeie gehalte met ’n goeie opbrengs saamgegaan het.

 

Wat het opgeval tydens die beoordeling van die wenblok?

Die wenblok se opleistelsel is ’n treinspoorstelsel, wat beteken dat daar ’n breë werkry van 2.5 m en ’n smal ry van 1.5 m is. Die totale kordonmeter per hektaar is dus 16% meer as die standaard 2.5 m-rybreedte. Daar kan dus minder gewig per stok afgehaal word, maar die totale ton per hektaar bly min of meer dieselfde in vergelyking met die standaardstelsel. Dit lei daartoe dat die blok gehaltedruiwe winsgewend kan oplewer.

 

Robertson: Wansbek

TEMA: BLOKKE WAT ANDERS AS DIE KONVENSIONELE VLP (VERTIKALE LOOTPOSISIONERING) OF KORTDRAERSNOEISTELSEL BESTUUR WORD.

Hennie Visser

Hoekom is hierdie spesifieke tema gekies?

Die tema is gekies om die produsente van ander prieelstelsels en snoeistelsels as die standaard vertikale lootposisionering (VLP) en kortdraer-snoeistelsels bewus te maak. Die sewe blokke wat beoordeel is, is almal anders bestuur, maar presteer goed. Dit was baie duidelik dat daar nie ’n perfekte stelsel is nie en dat alle stelsels hul eie voor- en nadele, asook unieke toepassings het. Een stelsel sal byvoorbeeld vir een produsent goed werk, maar as gevolg van ander aktiwiteite of ingesteldhede nie vir die volgende werk nie.

 

Ten spyte van die verskillende stelsels word daar gepoog om ligindringing te verbeter en sodoende ook vrugbaarheid sodat produksie volhoubaar is en kwaliteit afgehaal kan word.

 

Wat het uitgestaan tydens die beoordeling van die wenblok?

Die wenblok was ’n dubbelkordon meganies gesnoeide Sauvignon Blanc-wingerd, waarvan die druiwe aan Robertson Kelder gelewer word. Die blok was die egaligste – ’n resultaat van goeie stok-ontwikkeling toe die blok opgelei is. Die goeie trosverspreiding was opvallend en boonop was die trosse los, wat gelei het tot ’n lae vrotrisiko deur ’n uniforme loof.

 

 

Gepubliseer in die Julie 2015 uitgawe van WynLand tydskrif. 

Francois Viljoen

Francois Viljoen

Go Back