News

Nicolaas Geldenhuys van Klipvlei se wenblok Chenin Blanc word fyn gemonitor. - See more at: https://vinpro.co.za/nuus/behou-die-blok-balansaf-ZA#sthash.eQdaRfoR.dpuf

Nicolaas Geldenhuys van Klipvlei se wenblok Chenin Blanc word fyn gemonitor.

Daar is ’n fyn balans tussen wat jy in ’n wingerdblok insit en wat jy uiteindelik uitkry. Nicolaas Geldenhuys van Klipvlei buite Paarl weet net hoe om hierdie balans te handhaaf.

Nicolaas Geldenhuys, die wenner van VinPro en Winetech se jaarlikse wingerdblokevaluering in die Paarl en Swartland, verbou sy blok Chenin Blanc met die vars, vrugtige gebottelde wynsegment as eindbestemming. Teen tussen R30 en R40 per bottel moet insette noukeurig bestuur word.

“Dit is juis die uitdaging in hierdie kategorie wat ook as tema vir vanjaar se evaluering gekies is,” sê Hanno van Schalkwyk, VinProwingerdboukundige vir die streek. “Beide goeie produksie en gehalte moet behaal word om volhoubaar te wees.”

Volgens hom het Klipvlei veral by die beoordelaars uitgestaan vir die manier waarop die blok deurlopend gemonitor en aanpassings gemaak is om kostes met die wyndoelwit te belyn. “Nog meer belangrik – niks buitengewoon word in die wingerd gedoen nie, maar die basiese vereistes is in plek en word 100% reg uitgevoer,” sê Hanno.

Nicolaas sê die blok Chenin Blanc, wat op Richter 99 geënt en op ’n vyfdraad-heiningstelsel opgelei is, relatief maklik bestuur word aangesien dit op homogene grond met slegs twee grondtipes verbou word. Verder word eenvoudige kortdraer-snoeimetodes toegepas.

“Ons maak wel deeglik seker van die klas waarin die druiwe by die kelder ingeneem gaan word en gebruik tegnologie soos Fruitlook en ander kontroleringsapparate om groei en waterverbruik deurlopend te monitor en aan te pas.”

Hy hoop om deur ’n nuwe benadering tot die bestuur van sy wingerde werknemers se motivering te verhoog, hulle die kans te gee om te groei en eindelik ook ’n verhoging in produktiwiteit te sien. “Ons het begin om sekere blokke aan spesifieke werkers toe te vertrou wat snoei betref. So neem werkers eienaarskap van hul blok en kry gedurende suiertyd ’n span in wat hulle self oor toesig hou.” Nicolaas sê hoewel dié benadering nog in sy kinderskoene is, sien hy reeds die positiewe gevolge hiervan. “Blokleiers verstaan nou die einddoelwit en die proses om daarby uit te kom soveel beter en is meer gemotiveerd. Eindelik wil ek graag die geleentheid vir mense skep wat hulself op hierdie manier bewys om bevorder te word,” sê hy.

Chenin Blanc vir die vrugtige gebottelde wynsegment

Kultivar: Chenin Blanc

Onderstok: Richter 99

Plantjaar: 2004

Blokgrootte: 12 ha

Plantwydte: 1.5 m

Rywydte: 3 m

Opleistelsel: 5 draadheining

Produksie: 22.5 ton/ha

Suiker: 23.9°B

pH: 3.5

Suur: 5.5 g/liter

Soos gepubliseer in die Junie 2016 uitgawe van WynLand tydskrif.

Go Back