News

Basie van Lill van die plaas Arbeidseind, wenners van die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie in die Olifantsrivierstreek.

ʼn Ou blok Chenin Blanc op Basie van Lill se plaas Arbeidseind naby Citrusdal het ander blokke in die Olifantsrivier geklop in Vinpro en Winetech se jaarlikse Wingerdblokkompetisie.

Gert Engelbrecht, Vinpro-wingerdkonsultant in die Olifantsrivierstreek vertel dat die inskrywings vir die streekskompetisie vanjaar oop was vir enige wit kultivar wat vir premiewyn aangewend word. “Ons het spesifiek ook gefokus op daardie verborge skatte in die streek, wat byvoorbeeld ʼn koeler klimaat en hoër hoogte bo seespieël het, of waar wingerde droëland verbou word.”

Wingerdblokke is in die Cederberg-, Citrusdal berggebied-, Lambertsbaai- en Koekenaap-gebiede beoordeel.

Oubaas Laubscher van Cederberg Wines in die Cederbergwyk is in die tweede plek aangewys vir sy blok Sauvignon Blanc en JP de Villiers van die plaas Mopanie in die Koekenaapwyk was derde, ook met Sauvignon Blanc.

“Die wenblok is ʼn 28 jaar oue droëland bosstokwingerd in ʼn area wat meer as 400 mm reën jaarliks ontvang. In ʼn uiters droë 2017 het die gebied slegs 160 mm reën ontvang, maar die voorkoms van die blok is steeds uitstekend,” vertel Gert.

Volgens hom is die blok in goeie balans. Die lower is in ʼn uitsonderlike toestand met goeie sonligdeurdringing en geen voorkoms van geel blare nie. Die oesgrootte is by die lower aangepas, met minder en kleiner trosse as normaal en geen sigbare tekens van sonbrand nie. “Hierdie balans is verkry deur doeltreffende snoei volgens die groeikrag van elke individuele stok en die toepassing van goeie suierpraktyke daarna. As gevolg hiervan het die blok ook uitgestaan vir sy uniforme rypheid,” sê Gert.

Die Vinpro Winetech Wingerdblokkompetisie word jaarliks in die onderskeie streke aangebied om optimale wingerdpraktyke volgens die spesifieke tema te identifiseer, evalueer en met die bedryf te deel.

-Einde-

Uitgereik deur:            VinPro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

VinPro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back