News

Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf verwelkom die regering se inflasionêre aksynsverhoging wat op 20 Februarie 2019 aangekondig is.

Tydens die jaarlikse Nasionale Begrotingsrede het die Minister van Finansies, Tito Mboweni, ’n aksynsverhoging van 7.4% vir wyn en brandewyn en 9% vir vonkelwyn aangekondig.

Hoewel daar geweldige druk op die Minister is om aksyns te verhoog, is die wyn- en brandewynbedryf tevrede met die inflasionêre verhoging wat pas vir hierdie produkte aangekondig is. Hierdie verhoging stem ooreen met die beleidraamwerk wat in 2014 ingedien en bespreek is.

“Die wyn- en brandewynbedryf maak op die regering se ondersteuning en samewerking staat om sy waarde-aanbod in die internasionale arena te verbeter. Ons verwelkom die inflasionêre aksynsverhoging en die sekerheid wat hierdie beleidraamwerk vir die bedryf bied. Broodnodige en voordelige groei word hierdeur aan die bedryf verseker,” sê Rico Basson, besturende direkteur van die wynbedryfliggaam Vinpro.

Uit positiewe groei in die uitvoerwaarde van wyn gedurende 2018 is dit duidelik dat die internasionale mark gretig is om meer vir Suid-Afrikaanse wyn te betaal. Dit is van groot belang vir die bedryf en die land om hierdie momentum onder uitdagende ekonomiese omstandighede te behou, veral terwyl die onlangse droogte steeds ʼn invloed op vanjaar se oes sal hê.

Die wyn- en brandewynbedryf se volhoubaarheid strek tot voordeel van werkskepping en sosiaal-maatskaplike opheffing en behoort hoë prioriteit by die regering te geniet. Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf ondersteun meer as 290 000 werkgeleenthede en sy bydrae tot die land se BBP beloop R36.1 miljard.

“’n Gesonde wyn- en brandewynbedryf sal buitelandse belegging en vertroue aanmoedig, wat in ooreenstemming is met die regering se hernieude fokus op internasionale belange en ekonomiese groei,” sê Basson. “Deurlopende en deursigtige dialoog tussen die bedryf en verskeie regeringsdepartemente rondom die eiesoortige uitdagings wat wynprodusente en kelders in die gesig staar, sal steeds ʼn prioriteit bly.”

-EINDE-

Uitgereik deur: Vinpro
Medianavrae: Wanda Augustyn
Vinpro Kommunikasiebestuurder
Tel: 021 276 0463
E-pos: wanda@wineland.co.za

 

Go Back