News

Met die nuut aangekondigde aksynsverhoging vir die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf is dit teleurstellend om te sien dat die regering ʼn bo-inflasionêre aksynsverhoging daargestel het.

ʼn Aksynsverhoging van 8.5% vir wyn (insluitende vonkelwyn) en brandewyn en 6% op gefortifiseerde wyn is deur die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, tydens die jaarlikse Nasionale Begrotingsrede op 21 Februarie 2018 aangekondig.

“Die bo-inflasionêre aksynsverhoging is werklik teleurstellend juis teen die agtergrond dat die bedryf die belastingteikens, soos ooreengekom in 2014, in die afgelope jaar reeds bereik én selfs oorskry het,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente is reeds ʼn geruime tyd onder finansiële druk weens die voortslepende droogte, asook verskeie ekonomiese uitdagings. Produksiekostes het die afgelope dekade verdubbel en die verwagting is dat kostes in 2018 met 9% sal styg, ingesluit die nuwe minimum loon wat op 1 Mei met 17% styg.

Met die wynbedryf wat ongeveer 290 000 werksgeleenthede ondersteun, is die feit dat die gemiddelde wyndruifprodusent nie teen volhoubare winsmarges funksioneer nie en meer as ʼn derde teen ʼn verlies boer, groot rede tot kommer. Die wesenlike laer 2018 wynoesprojeksie weens die droogte het nie net ʼn groot ekonomiese impak nie, maar skep ook sosiaalmaatskaplike uitdagings weens werksverliese.

“Dit is uiters belangrik dat die wynbedryf nou saamwerk met die Regering en georganiseerde landbou om oplossings te vind én ondersteuning te kry vir die huidige sosio-ekonomiese situasie, veral in plattelandse gemeenskappe,” aldus Basson.

“Ons doen ook ʼn beroep op die Regering om verdere hulp en ondersteuning met betrekking tot die SA wyn- en brandewyn se strategiese plan wat insluit verbeterde marktoegang, belegging in infrastruktuur en navorsing. Dít, asook finansiële ondersteuning vir transformasie, die ontwikkeling van dam- en kanaalinfrastruktuur én die eliminering van rompslomp rondom prosesse in hierdie verband, is van kernbelang vir die wynbedryf om sy bydrae tot die ekonomie verder te verhoog.”

Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf lewer ʼn wesenlike bydrae tot die land se BBP ten bedrae van R36.1 miljard.

“Vinpro poog voortdurend om ʼn omgewing te help skep waarin wynbesighede kan groei en dien as katalisator om die Suid-Afrikaanse wynbedryf na ʼn aanpasbare, robuuste, globaal mededingende en winsgewende bedryf te stuur sodat elkeen uiteindelik hieruit kan voordeel trek,” sê Basson.

-Einde-

Addisionele notas:

Infografika: Stand van die SA Wynbedryf 2017 – https://bit.ly/2BEYApc

Nuusvrystelling: Wyndruifprodusente trek swaar, maar strukturele verandering op pad – https://bit.ly/2FhIX70

Uitgereik deur:            Vinpro

Medianavrae:              Wanda Augustyn

VinPro Kommunikasiebestuurder

Tel: 021 276 0463

E-pos: wanda@wineland.co.za

 

 

Go Back