News

Armando Baartman, ’n voorman by die plaas Saratoga Fruit naby Robertson, is as die wenner van Agri’s got Talent 2015 aangewys – ’n talentkompetisie en lewensvaardighede projek vir landbouwerkers in die Suid-Afrikaanse vrugte- en wynbedrywe.

Die wenner is aangekondig na skitterende optredes deur die 11 finaliste tydens ’n gala-aand wat 31 Julie by die Lord Charles Hotel, Somerset-Wes gehou is. Sangeres Andriëtte Norman, musikant Frieda van den Heever en 2014-wenner Ayabonga Mhobo het by hulle op die verhoog aangesluit, en die program is deur akteur Albert Maritz as seremoniemeester gelei.

Erien Smith, ’n kwaliteitskontroleerder by Graaff Fruit, Prince Alfred Hamlet, was tweede en Rayline Booysen, voormalige vurkhysdrywer en nou data-invoerder by Rhodes Food, Tulbagh, het derde geëindig.

Die finaliste is uit 75 video-inskrywings gekies. In die week voor die gala-aand het Frieda en Albert aan die finaliste musiek/sang-, verhoog- en media-opleiding gegee. ’n Lewensvaardighede-komponent, wat deur Procare Wes-Kaap aangebied is, het interpersoonlike vaardighede, asook konflik- en stresbestuur ingesluit.

“Die Agri’s got Talent projek bied aan vrugte- en wynbedryf-werkers ’n platform om hul talent ten toon te stel, en terselfdertyd vaardighede te ontwikkel waarmee hulle ’n verskil in hul gemeenskappe kan maak,” vertel Anton Rabe, uitvoerende direkteur van die vrugte-organisasie, HORTGRO.

Die vrugtebedryf het die projek in 2014 van stapel gestuur, maar dit word nou gesamentlik deur HORTGRO en die VinPro Stigting aangebied, wat transformasieprojekte namens die wynbedryforganisasie VinPro behartig. “Ons vennootskap beklemtoon die feit dat beide hierdie industrieë die bemagtiging en ontwikkeling van hul werkers as ’n pioriteit beskou,” vertel Rico Basson, besturende direkteur van VinPro.

Armando, wat die gehoor van 500 op hul voete gehad het op die maat van Michael Jackson se Rock with You en Living Years van Mike & the Mechanics, het die volgende te sê oor sy toekenning: “ Sang was nog altyd deel van my, maar deur hierdie kompetisie te wen, is ’n groot droom bewaarheid! Ek moet myself nog knyp!” Hy het ’n kontantprys ontvang, en sal vorentoe ook die geleentheid kry om by landbougeleenthede op te tree.

,237

Go Back