News

Niël Joubert (links) ontvang die eretoekenning van Agri Wes-Kaap president Cornie Swart.

Niël Joubert, wyndruifprodusent en Vinpro-direkteur vir die Klein Karoo-streek, is onlangs tydens die Agri Wes-Kaap Jaarkongres as ere-visepresident vereer.

Hy het van 2003 tot 2015 op verskeie Agri Wes-Kaap strukture gedien, waarvan die laaste vier jaar as visepresident van hierdie provinsiale landbou-organisasie. Niël is ook reeds sedert 2006 op nasionale vlak by Agri SA betrokke en dien die afgelope twee jaar op die bedryfskamer se bestuur, vergoedingskomitee en direksie.

“Niël het mede-landbouers in sy termyn as visepresident van Agri Wes-Kaap met toewyding en op ʼn besondere wyse gedien. As ʼn landbouleier speel hy steeds ʼn belangrike rol in die georganiseerde landbou met sy betrokkenheid by Agri SA, waar hy net soveel waarde toevoeg as in sy termyn by Agri Wes-Kaap,” het Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap tydens die oorhandiging gesê.

As die verteenwoordigende organisasie vir nagenoeg 2 500 Suid-Afrikaanse wynduifprodusente, kelders en wynverwante besighede skakel Vinpro deurlopend met georganiseerde landbou oor gemeenskaplike belange deur sy lidmaatskap aan Agri Wes-Kaap, Agri SA en Agbiz.

 

Go Back