News

As ’n mens aan wynmaak in Afrika dink, kom Suid-Afrika se pragtige landgoedere en hul wingerde onmiddellik in jou gedagtes op. Maar wat die meeste mense nie besef nie, is dat daar ook in ander Afrikalande met wingerde gewoeker word.

Dis maklik om inligting oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die hande te kry omdat die bedryf al lank aan die gang is – die eerste wingerde is reeds in 1655 deur Jan van Riebeeck in die Kaap geplant. Entiteite soos South African Wine Industry Information & Systems (SAWIS), wat die insameling en verpakking van data behartig, vergemaklik toegang tot inligting en maak dit soveel makliker om ons bedryf beter te leer ken.

Sou ’n mens meer inligting oor ander wynlande in Afrika soek, raak dinge meer ingewikkeld. Daar is nie ’n soortgelyke magdom inligting beskikbaar oor lande soos Algerië, Tunisië, Marokko, Egipte, Tanzanië, Kenia, Uganda, Zimbabwe, Ethiopië, Angola en Namibië soos oor Suid-Afrika nie. Die inligting is ook nie so maklik bekombaar soos hier nie.

Beyers Truter met ‘n paar van sy staatmakers. Vlnr: Koos Stofberg, Beyers Truter, Generaal Furtado, Jaco Stofberg en Wessel de Lange.

Maar dit mag dalk vir beleggers die moeite werd wees om Afrika as ’n ontluikende mark dop te hou – veral wat die produksie van wyn aanbetref. Ongeverifieerde bronne dui byvoorbeeld aan daar is ongeveer 425 ha onder wingerd in Afrika. ’n Paar wingerdkundiges en pioniers van wingerde in Afrika vertel meer van hul ervarings met die vestiging en instandhouding van wingerde in Afrika.

Angola

Beyers Truter, voorsitter van die SA Pinotage-vereniging, is in 2013 deur generaal Francisco Furtado, destydse leier van die Angolese weermag, genader oor die moontlikheid om wingerde in Angola te vestig. “Ons het besluit om saam te werk en ek het aan die einde van Desember 2013 Pinotage-, Shiraz-, Cabernet Sauvignon- en Rubernet-wingerde in Angola geplant,” sê Beyers. “Die wingerde is gevestig in die omgewing van die Serra da Leba-pas, wat 2.1 km bo seespieël is. Die weer kan as matig beskryf word, siende dat die temperatuur gedurende die dag selde bo 32˚C styg en gedurende die nag tussen 12 en 14˚C is. Oestyd is ook dieselfde as in Suid-Afrika.

“Die gemiddelde temperatuur tydens pars is laer as in Suid-Afrika, wat langer rypwording beteken.” Maar daar is ook talle uitdagings volgens Beyers. “Baie reën in Februarie en Maart – van 700 tot 750 mm – gee aanleiding tot vrot.” Spuitstowwe is dus noodsaaklik. Die grond is ook bitter arm en is soortgelyk aan Kalaharisand. Bemesting is definitief nodig. Ander uitdagings soos ’n verswakte kwanza, gebrekkige infrastruktuur en ongeskoolde arbeid moet ook oorkom word. Ons moes byvoorbeeld baie van ons gereedskap en selfs pale vir wingerdopleiding uitvoer na Angola. Om ’n hektaar wingerd in Angola te vestig kan maklik dubbel soveel as in Suid-Afrika kos. Mense moet dus mooi dink voordat hulle so iets aanpak.”

Ten spyte van al die uitdagings kon Beyers en sy span tot op hede 12 hektaar wingerde vestig. Die eerste wyn van die nuwe wingerde is in 2016 gemaak en die tweede pars het vanjaar gevolg. “Al die druiwe wys baie mooi en toon geweldig baie rooi vrug,” sê Beyers. “Alhoewel hierdie hele projek eksperimenteel is, is ek volstoom aan die gang om die beste moontlike wyn, grappa en later vonkelwyn – MCC nogal – te maak. Ons het reeds 12 ha wingerd gevestig en die plan is om te groei na 25 ha. Ek sou nie hierdie projek aangepak het as ek nie gedink het dis kommersieel vatbaar nie en ek is van plan om ’n sukses daarvan te maak.”

Tanzanië

Hierdie land is, naas Suid-Afrika, die grootste wynprodusent in Afrika suid van die Sahara. ’n Totaal van 99% van die land se wingerde is geleë in Dodoma en die land se uitvoer van wyn het van 1998 tot 2013 met ’n faktor van 900 gegroei.

Dirk Bosman, voorheen bestuurder van wingerdbou en druiweaankope by Distell, het van 2007 tot 2012 in Tanzanië gewerk. Sy kundigheid was toe ingespan om wingerde te vestig en te verbeter wat destyds druiwe aan Tanzanian Distilleries (TD) gelewer het. Teen die tyd wat hy sy werk in Tanzanië voltooi het, het Distell ’n aandeel van 35% in TD gehad. Distell se betrokkenheid was deels gemik op verhoogde produksie van wingerde wat druiwe aan TD verskaf het.

Volgens Dirk het hy opdraande gehad om verskaffers aan TD te oortuig om wingerdproduktiwiteit te verhoog. Hy en Kirowi Suma, die destydse besturende direkteur van TD, het mettertyd verskaffers se skeptisisme weggekalwer en hul vertroue gewen deur hulle te help met goeie wingerboupraktyke en die vestiging van nuwe wingerde. Baie van die beter wingerdboupraktyke is by die Makutupora Viticulture Research and Training Centre gedemonstreer.

“Daar was talle uitdagings in Tanzanië wat wingerdbou aanbetref,” sê Dirk. “Weens swak praktyke was die gemiddelde opbrengs dikwels twee tot drie ton per hektaar. Opleitegniek was swak, besproeiing en bemesting was skaars en 80% van die produsente het geen plaagbeheer toegepas nie. En weens die ewenaar se nabyheid en gebrek aan wingerdstokdormansie is daar twee oeste per jaar. Die eerste een in Maart gaan gepaard met swaar reën. Die tweede oes in Augustus en September kry geen reën nie en het dus nie dieselfde probleme met skimmel nie.”

Dirk sê dit het ’n taamlike kopskuif van die produseerders geverg om op die tweede oes te fokus. “Die tweede oes het geen vrot nie en daar is gemik om 70 tot 80% van die druiwe dan te oes. Deur goeie wingerdboupraktyke het ons gesien hoe die wingerde meer produktief raak, terwyl hul leeftyd ook verleng is. Van die wingerde wat ons mee gewerk het, het van twee tot drie ton opbrengs per hektaar na 30 ton per hektaar geklim. Die gemiddelde opbrengs het tot 15 tot 16 ton per hektaar gestyg.”

Ethiopië

Ethiopië is naas Nigerië die digs bevolkte land in Afrika en ten spyte van armoede en politieke struwelinge word daar ook hier wyn gemaak. “Ek was van 2013 tot 2015 by Awash Wines in Addis Ababa gebaseer,” sê Abraham de Klerk van Baleia Wines in Riversdal. “Hierdie kelder het ’n kapasiteit van sewe miljoen liter en die wingerde is meer as drie ure se ry van Addis Ababa in die Great Riftvallei.

“Nes in Tanzanië is daar twee oeste per jaar moontlik, siende dat die groeiseisoen ses maande duur met geen oorwinteringstydperk nie. Om vrugbaarheid te behou moet ’n rusperiode geïnduseer word. Dan skep die oorvloedige reën ook donsskimmel­probleme. Pesbeheer word dus tipies elke sewe dae gedoen tydens die reënseisoen wat ongeveer drie maande duur. Die tropiese klimaat bevoordeel wel sekere kultivars en boonop is die grond vulkanies en dus baie vrugbaar. As gevolg van ontwikkelende infrastruktuur en die finansiële sektor bied die land verskeie uitdagings ten opsigte van in- en uitvoere wat interne werksaamhede bemoeilik.”

Andrew Teubes van Voor-Groenberg Kwekerye in Wellington het in Ethiopië tegniese ondersteuning aan wingerdboere gebied, en werp meer lig op die verskillende wingerdbou­gebiede in dié land. “Die suidelike deel van Ethiopië is meer tropies en daarom word daar twee maal per jaar gesnoei en geoes. Die hooglande in die noorde van die land is meer as 2 000 m bo seespieël en wingerde word hier ook twee keer gesnoei, maar daar word slegs een keer geoes.”

Marokko, Egipte, Kenia, Zimbabwe, Namibië en Zambië

Andrew het in al hierdie lande tegniese ondersteuning gebied en het baie ervaring met menigte kultivars opgedoen.

“Die grootste wingerdboufoute wat ek teëgekom het, was weens swak beplanning,” sê hy. “Moderne tegnieke en tegniese ondersteuning bestaan nie in dié lande nie.

Kultivarkeuse is ook ’n algemene probleem omdat talle nie vir ’n tropiese klimaat geskik is nie. Sekere klone van Chenin Blanc en Shiraz presteer goed, terwyl Chardonnay, Pinot Noir en Cabernet Sauvignon sleg vaar. Party kultivars toon geen groeikrag nie en ander groei weer sterk, maar dra geen druiwe nie.

“Ander probleme soos slegte onderstokkeuse, swak grondvoorbereiding, gebrek aan besproeiings- en bemestingsbeplanning, verkeerde opleiding- en snoeitegniek en swak aanwending van die regte snoeitegniek kom ook algemeen voor.”

Ian Sieg van Landzicht Wyne het in Zimbabwe vir twee jaar met geweer aan die sy wyn gemaak by Mukuyu Wynkelder (Mashonaland-oos streek van Zimbabwe) en ook wingerde help vestig. Hy beklemtoon jy moet ’n plan hê voordat jy in ’n land soos Zimbabwe gaan boer.

“Maak seker jy weet hoe die klimaat is. Daar is ’n groot verskil tussen ’n tropiese klimaat en die klimaat wat ons hier in Suid-Afrika het. Temperatuur en reënval gaan waarskynlik ’n faktor wees, dus moet pesbeheer goed deurdink word. Verder is die grondtipe ook bepalend wat bemesting aanbetref. Kultivars soos Villard Blanc is meer bestand teen siektes en behoort eerste oorweeg te word. Ander peste soos insekte en voëls mag ook teenwoordig wees. Dit kom daarop neer dat jy ’n baie goeie plan moet uitwerk voordat jy wingerdprojekte in Afrikalande aanpak. Maak ook seker jy het kopers vir jou druiwe voordat jy met jou projek begin.”

Daar is talle uitdagings wanneer dit kom by die vestiging en instandhouding van wingerde in Afrika, maar met goeie kontakte, ’n weldeurdagte plan en uithouvermoë kan sukses behaal word. Die wiel draai aansienlik stadiger in die res van Afrika as in Suid-Afrika en sonder geduld en diep sakke kan jy teëspoed optel.

Soos gepubliseer in die Junie 2017 uitgawe van WynLand tydskrif.

Go Back